MONTAGU – Die Boland-rugbyunie se o.21-rugbyspan het verlede Saterdag (21 September) sy eweknie van die Suidwestelike Distrikte-rugbyunie (SWD) in ’n o.21-Skildwedstryd op die King Edward-sportterrein in Montagu gepak en met 78-14 oorrompel.
Dié jong Kavalierspan van die voormalige Springboksenter Juan de Jongh (afrigter) was in ’n vernietigende bui.
Skaars twee minute nadat die wedstryd begin het, het die binnesenter, Glenn-Lin Tromp, agter SWD se doellyn gaan kuier.
Hierna het die Bolanders ’n voetpad na die besoekers se doellyn uitgetrap soos hulle die drieë ingeryg het.
Met ses drieë teenoor een en die rustydtelling op 40-7 in Boland se guns, was die skrif vir die jong span van die SWD in hoofletters aan die muur.
Ná die waterdrinktyd het die jong Kavas die slagting voortgesit.
Hulle het die jong Arende van hul voete afgespeel en nog ses drieë aangeteken.
Die plaaslike speler Renaldo Koker, wat in die tweede helfte as plaasvervanger-senter onder luide toejuiging voor sy tuisskare opgedraf het, het beïndruk en twee keer gaan druk. Hy het ook met ’n doelskop geslaag.
Boland was vanuit die staanspoor heeltemal in beheer van die wedstryd en het die SWD oordonder.
Die tuisspan het altesaam 12 drieë gedruk, waarvan nege verdoel is, teenoor die twee verdoelde drieë van die besoekers.
Die ander driedrukkers van Boland was Brody Goddard (2), David Coraizin (2), Elrique Fortuin, Morné Alexander, Percy Basson, Luan Louw en Ruan Higgs. Ferlin Julies (losskakel) het agt doelskoppe deur die pale gejaag.
Vir die SWD het Jaco Naudé en Ka-Jay Josephs elkeen ’n drie gedruk, terwyl Junaid Damons met twee doelskoppe geslaag het.
Boland het ook beide spelerstoekennings losgespeel. Percy Basson (buitesenter) is as die Sanlam Confident- Speler van die Wedstryd aangewys, terwyl Evan Plaatjies (nr. 6-flank) die Vuma Connected Moments-toekenning ontvang het.




