ASHTON. – Die Van Rooi- en Mitchell- families van Ashton is gebroke ná die heengaan van ’n geliefde suster, ma, ouma en eggenote.
Katriana van Rooi (59), algemeen bekend as “Kitty”, is Sondag 28 April aan kanker oorlede.
Kitty, met die nooiensvan Mitchell, was die vrou van Bennie van Rooi, die president van die Boland-rugbyunie. Sy is verlede Saterdag (4 Mei) in die Ashton-begraafplaas ter ruste gelê.
Alle klubrugbywedstryde van die Boland-rugbyunie wat verlede Saterdag sou plaasvind, is weens die begrafnis van dié liefdevolle en nederige vrou van die rugbyhoof vir 1 Junie herskeduleer.
Die V G Kerk (Ashton) waar die diens deur pastoor Peter Albanie waargeneem is, was stampvol. Pastoor Albanie het ’n besonders treffende boodskap van troos vir die bedroefde families uit Johannes 14 gebring.
In sy huldeblyk het Patti Buys, ’n familielid, ’n kort oorsig van Kitty se lewe met die begrafnisgangers gedeel.
Buys het onder meer gesê Kitty was ’n sterk vrou en het veral na haar uitsonderlike liefde vir haar man, kinders en kleinkinders verwys.
’n Jarelange vriendin van Kitty, Dalene Pekeur, het gesê die kinders het met hul moeder se heengaan ’n stukkie goud verloor.
Senior ampsbekleërs in die rugbywêreld het ook hul medelye met die Van Rooi- en Mitchell-families betuig en Van Rooi se ontslape eggenote van 42 jaar gehuldig.
Advokaat Willie Smal, visie-president van die Boland-rugbyunie, het die uitvoerende komitee van die unie se medelye oorgedra.
“Vandag is nie ’n maklike dag nie. Die Boland-rugbygemeenskap is in rou gedompel,” het hy gesê.
Hy het Kitty as beskryf ’n stil en opregte persoon wat haar man in stilte gedien en ondersteun het.
Francois Davids, adjunk-president van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru), het ook ’n toespraak gelewer en sy medelye teenoor die Van Rooi- en Mitchell-families uitgespreek.
Oor Kitty het hy gesê dat sy ’n liefdevolle en nederige mens was.
“Sy het my geleer om nederig te wees,” het Davids gesê.
Vir die rugbyspelers en bestuurslede het hy gesê: “Wees lief vir mekaar. Rugbymanne, hou op onder mekaar baklei en vat Boland met sy meer as 214 klubs vorentoe.”
Ander unie-presidente wat die begrafnisdiens bygewoon het, was Zuko Badli van die Grens-rugbyunie en Ben Brinkhuis van die Suid-Westelike Distrikte (SWD)-rugbyunie. ’n Voormalige president van die Boland-rugbyunie, Jackie Abrahams, asook Peter Jooste en Danny Jones, albei van die Westelike Provinsie-rugbyunie, sowel as Basil Duitsjan (Boland) het ook hul medelye aan die betrokke families kom betoon.
Die ter aarde bestelling het in die Ashton-begraafplaas plaasgevind.




