’n Speler slinger die bal na ’n spanmaat tydens ’n o.21-proefwedstryd by die Boland-rugbystadion in Wellington. Spelers uit agt streke uit die Boland (Sentraal, Weskus, Witzenberg, Breërivier, Overberg, Langeberg, Swartland en Noord-Wes) het die afgelope Saterdag aan die proewe deelgeneem.Foto: Franco Caleb Chayim du Toit


Die Boland-rugbyunie het die afgelope Saterdag (8 Junie) inter-streek-rugbyproewe vir o.21-spelers by die Boland-rugbystadion in Wellington gehou.

Agt streke uit die Boland het teen mekaar meegeding.

Sentraal en Weskus het mekaar om 10:00 op die A-veld gepak, terwyl Witzenberg en Breërivier mekaar op dieselfde tyd op die B-veld die stryd aangesê het.

Om 12:00 het Overberg vir Langeberg op die A-veld aangedurf, terwyl Swartland op die B-veld teen Noord-Wes kragte gemeet het.

Volgens ’n mediaverklaring van die unie sal nog ’n ronde proefwedstryde gehou word.

“Sedert die begin van die proewe in die onderskeie streke het oor die 800 spelers deelgeneem.

“Ná die 8 Junie-proewe sal nog ’n ronde proefwedstryde gehou word, waarna ’n groep van tussen 35 en 40 spelers gekies sal word wat vanaf 8 Julie met ’n twee maande lange oefenprogram sal begin voordat die kompetisie in September begin.

“Die oefenprogram sluit fiksheidsoefeninge, hoëvlak-vaardigheidsafrigting en veel meer in,” lui die mediaverklaring.

Die o.21-speelrooster lyk soos volg:

. Saterdag 7 September: Grens t. Sanlam Boland;

. Saterdag 14 September: Sanlam Boland t. Oostelike Provinsie;

. Saterdag 21 September: Sanlam Boland t. Suid-Westelike Distrikte;

. Saterdag 28 September: Oostelike Provinsie t. Sanlam Boland;

. Saterdag 5 Oktober: Suid-Westelike Distrikte t. Sanlam Boland; en

. Saterdag 12 Oktober: Sanlam Boland t. Grens.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article