Die bekende Pure Boland Mark wat maandeliks aangebied word by die groenstoor net buite Worcester het ’n nuwe projek op die been gebring om jong entrepreneurs in die streek aan te moedig om hul eie ondernemings te bestuur en te bedryf.
Pure Kind is die jongste toevoeging tot die Pure Bolank Mark en talle mense is vreeslik opgewonde oor die moontlikhede wat hierin opgesluit lê.
Tharina Marais, bestuurder en eienaar van hierdie mark, het in Februarie 2009 die mark saam met ’n vriendin, Berna Coetzee, begin en het gou aandag getrek.
“Ek en my vriendin het gesien hier is ’n groot behoefte aan so ’n mark in die dorp. Hier was nie so iets nie. Sy het my gehelp om dit van die been af te kry en het toe op haar fotografie-onderneming gefokus. Die afgelope 13 jaar bestuur en ek my span van The Habit Guesthouse die mark,” vertel Marais aan Standard.
Die mark word elke eerste Saterdag van die maand by die groenstoor teen die Brandwachtpad aangebied en mense kom van heinde en ver om dit maandeliks te besoek. Dit is beslis een van Worcester se groot suksesverhale.
“Ek dink die sukses is te danke aan die deursettingsvermoë en samewerking van die entrepreneurs wat by die mark uitstal. Daar was moeiliker tye en makliker tye.
“Ons het al teenkanting van owerhede gekry, maar het deurgedruk en sterker anderkant uitgekom. Covid-19 het gekom en gegaan, maar ons het probeer innoverend wees in daardie periode en ’n aanlyn winkel begin waar ons die uitstallers se produkte een maal per week by klante se huise afgelewer het. Dit het baie van die klein besighede aan die gang gehou tydens die streng grendeltydperk.”
Marais meen egter dat al hierdie suksesse nie bereik sou kon word sonder die ongelooflike ondersteuning van die gemeenskap nie.
Hulle werk ook nou saam met die plaaslike toerismesentrum en het ook opwip-stalletjies by wynkelders en ander geleenthede in die omgewing.
Marais en haar span het ook groot planne om hierdie mark as handelsmerk verder uit te brei om plaaslike produkte aanlyn te koop, aan te bied en nasionale aflewering van produkte te voorsien.
Dit is egter die fokus op jeugontwikkeling en jong entrepreneurs wat nou ook aandag geniet.
Pure Kind skep die platform vir kinders tussen sewe en vyftien jaar en wat in die Breedevallei woon om hul eie stalletjie met selfgemaakte produkte te beman en te bestuur onder leiding van die mense wat verantwoordelik is vir Pure Boland Mark se sukses.
“Die jonges kan hul besigheidsidee vir my per WhatsApp of e-pos stuur – sommer in die vorm van ’n teksboodskap, ’n stemboodskap, ’n video of op enige manier waarmee hulle gemaklik voel. Ek sal nie sommer iemand afkeur nie, tensy ek kan agterkom dit word deur ouers of voogde afgedwing of is eintlik ’n bestaande besigheid van ’n ouer. Die kinders wat inskryf moet ook alle produkte self maak en alle winste moet aan die kind self gaan,” voeg Marais by.
Sy sê verder dat ouers en voogde die jonges mag adviseur hoe om met die geld te werk of hoe en waar om dit te bank en te spaar, maar hulle mag dit nie self vat nie.
“Ons vra ook ’n 10%-fooi van die omset van die dag vir al die Pure Kind-stalletjies, maar ons spaar dit en dit sal aan die einde van die jaar oorhandig word aan die kind wat die mees innoverendste was en die meeste deursettingsvermoë getoon het.”
Talle jongelinge het die afgelope naweek hul produkte ten toon gestel en Marais en haar span is opgewonde vir die toekoms.
Marais sê dat sy die jeug die belangrikheid van besigheid wil wys en om afhanklikheid van ’n jong ouderdom af te stuit. Sy wil kinders bemagtig met die geleentheid.
“Ek glo in paying it forward. Ons moet kinders wys dat hulle dit kan doen en dat die bestuur van hul eie besigheid en finansies ’n aanwins vir hul toekoms sal wees.”
Pure Boland Mark was ook verlede jaar ’n finalis in die radiostasie Kfm se jaarlikse beste in die Wes-Kaap-kompetisie.
Enigiemand wat met Marais in verbinding wil tree, kan haar kontak by info@purebolandmarket.co.za of by 082 301 8561.

