Die stem van Boland Dorpe se geliefde Kevi van Wyk is nou stil.Foto: Verskaf

Credit: Lise Beyers

Boodskappe van medelye stroom steeds in na die skielike heengaan van die stigterslid van die gewilde Facebook-blad Boland Dorpe, Kevril (Kevi) van Wyk, wat Dinsdagoggend (2 Januarie) by sy ouerhuis in sy pa se arms gesterf het.

Kevi se pa, Kosie (58), sê in ’n eksklusiewe onderhoud aan Standard & Breederivier Gazette sy seun het vermoedelik aan sy hart gesterf.

Hy sê Kevi was – benewens die hartversaking waaraan hy die afgelope drie jaar gely het – ook ’n depressielyer.

Kevi sou op 28 Januarie sy 39ste verjaardag vier. Hy was die pa van ’n 12-jarige seun, Kaydon.

’n Hartseer Kosie vertel dat Kevi sowat agt maande gelede by sy ouerhuis op die plaas La Motte in die Nuy Vallei buite Worcester aangedoen het – aanvanklik om net vir ’n kort rukkie te kom kuier.

Hy sê Kevi was by tye kort van asem en het “as gevolg van sy werklading” nooit genoeg slaap gekry nie.

Volgens Kosie het Kevi die laaste ruk baie tyd agter geslote deure in sy kamer deurgebring. Hy sê dit het vir dae so aangegaan.

Hy sê hy kon wel Kevi soms oortuig om uit sy kamer te kom. Volgens hom sou Kevi dan vir ’n kort rukkie met sy ouers gesels en dan weer teruggaan kamer toe.

Kosie sê Maandagaand (1 Januarie) het hy Kevi weer gesmeek om uit sy kamer te kom.

Volgens hom het hy (Kosie) Kevi se kamerdeur oopgetrap toe hy hoor sy seun praat onsamehangend en ook omdat hy dit nie meer langer kon verduur dat sy seun so baie tyd in sy kamer deurbring nie.

“Ek het vir hom gesê dat hy homself gaan verongeluk as hy nie na sy gesondheid kyk nie. Hy sê toe “gee my net kans tot môre-oggend dat ek net deur die nag kom met my werk””.

Kosie sê Dinsdag-oggend toe hy en sy suster se twee seuns by Kevi se kamer ingaan het hulle opgemerk hy bed sere het. Volgens Kosie het hulle ook uitgevind dat Kevi sy been beseer het toe hy vroeër geval het, maar Kevi het niemand daarvan vertel nie.

Volgens Kosie was sy seun Dinsdag baie deurmekaar. Hy sê hulle het die ambulans gebel toe Kevi uiteindelik ingestem het om hospitaal toe te gaan.

Kosie sê terwyl hulle besig was om Kevi reg te kry [vir die hospitaal] toe sê hy (Kevi) aan hom: “Jinne daddy, wat ’n wonderlike gevoel was dit nou om vir die rukkie te kon slaap.

“Ek gaan nou lekker slaap as julle klaar is en die ambulans kom haal my.”

Kosie sê Kevi het steeds moelik asemgehaal.

“Sy oë het skielik omgedop en toe hoor ek ’n geroggel. Ek het hom probeer bykry, maar het geen polsslag gevoel nie. Dis toe ek weet my kind is weg. Verewig. Dit was 10:00 toe hy oorlede is.”

Kosie het gese dat Kevi aan Breërivier Senior Sekondêre Skool gematrikuleer het waarna hy Kaap toe is om werk te gaan soek.

Hy sê om die een of ander onverklaarbare rede het sy seun op straat beland en begin swerf. Volgens hom was hy en sy vrou, Sussie (57), salig onbewus van dié wending in hul seun se lewe.

“Terwyl hy self geswerf het, het hy hom oor haweloses ontferm.”

Kosie sê Kevi het ’n paar weke later teruggekeer huis toe en ’n paar jaar later met Boland Dorpe begin. Hy (Kosie) sê deur middel van Boland Dorpe wou hy (Kevi) onder meer mense help.

“Ek het altyd vir Kevi gesê “jy kan iets beters doen, jy kan geld verdien, dan kan jy vir jou en Kaydon sorg””.

Volgens Kosie sal Kevi dan antwoord met: “Daddy dit (Boland Dorpe) is wat ek moet doen.”

“Kevi wou altyd mense tevrede stel. Ek het altyd vir hom gesê “jy kan nie altyd mense tevrede stel nie”, maar hy het dit nooit so gesien nie.

“Hy het altyd vir ons gesê dis sy mensies en wie gaan na hulle omsien as hy nie ’n poging aanwend nie.”

Kosie sê in die nag wanneer hy (Kosie) wakker word, dan is Kevi bedrywig op Boland Dorpe tot die son opkom. Volgens hom het sy seun skaars aan die slaap geraak, dan lui sy foon weer.

“Toe ek uiteindelik besef Boland Dorpe is sy passie, het ek hom gelos. Boland Dorpe het hom soveel vreugde verskaf.”

“Vandag kan ek vir die Here net dankie sê dat Kevril dit gedoen het. Hy het ’n onbaatsugtige liefde vir sy medemens getoon en baie lewens geraak.

“Ek wil aan Boland Dorpe se blad-lede en -admin baie dankie sê dat hulle Kevril altyd bemoedig het wanneer hy op ’n laagtepunt was.

“Dankie ook dat julle ons nou in hierdie tyd bystaan. Vir ons as ouers was dit ’n wonderlike voorreg en eer om ’n kind soos Kevi te kon hê.”

Kosie sê die begrafnisreëlings is in dié stadium nog nie gefinaliseer nie.

* Kevi was die oudste van drie kinders. Sy tweede oudste broer, Lenardo, is in November 2006 op 16-jarige ouderdom oorlede toe ’n voertuig hom vanaf sy fiets gestamp het.

Hul jongste broer André is in 1998 – sowat twee ure nadat hy gebore is – oorlede nadat daar daar komplikasies was by geboorte.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article