Een van die vele strukture op die Fairy Glen Wildreservaat wat deur die brand vernietig is. Foto: Luciano du Toit


’n Brand wat Vrydagmiddag by die Fairy Glen-wildreservaat in Worcester ontstaan het, het groot skade aan verskeie strukture op die reservaat aangerig.

Volgens Marianne Nielsen, ’n trustee van die Fairy Glen-wildreservaat, het die brand by Brandwacht ontstaan en vinnig na die reservaat beweeg.

“Tragiese gebeure het afgespeel toe die brand na die afgekampte gedeelte van die leeus versprei het. Die diere is onmiddellik in ’n veilige kleiner kamp losgelaat, wat gedurig natgehou moes word. Die mannetjie het geringe brandwonde aan sy pote opgedoen en sterk mooi aan ná mediese behandeling,” verduidelik Nielsen.

Sy verduidelik ook dat die vlamme vinnig na die chalets op die reservaat beweeg het.

“Ten spyte van alle pogings om die vlamme onder beheer te kry, het dit baie vinnig na die chalets versprei. Feitlik al die strukture is in ’n kort tydjie verwoes, asook twee van die drie permanente wonings op die reservaat. Die vlamme het na die kloof versprei, waar die Kliphuis naby die Fairy Glen-dam afgebrand het. Geweldige groot skade is aan die veld en fynbos aangerig en dit het ’n groot invloed op die voeding vir diere.”

Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) het Vrydag, kort nadat die brand begin het, gesê hulle het twee helikopters na die toneel ontbied.

Die Fairy Glen-bestuur wil graag almal bedank wat hulle te hulp gesnel het. Ons is baie dankbaar dat almal veilig uitgekom het en dat geen diere in die brand dood is nie. Fairy Glen wil graag sy dank en waardering uitspreek teenoor die gemeenskap van Worcester en omgewing en almal wat onmiddellik saamgespan het om te help, asook ook alle brandbestryders. Elke skenking – groot of klein – en alle projekte wat gereël word vir kos vir die diere, word opreg waardeer.

“Dankie ook aan die personeel van Fairy Glen wat so hard gewerk het om alles tydens die brand onder beheer te kry en wat hul beste vir die diere gee. Ons dink ook aan almal in die omgewing wat deur die brande geraak word.”

’n Woordvoerder van die KWDM het (Dinsdag 29 Januarie) in ’n verklaring gesê sowat 2 000 hektaar oppervlakte het tot dusver in die Fairy Gen-gebied gebrand.

“Aan die westekant brand die vuur steeds in baie uiters ontoeganklike dele van die berg, maar in ’n baie gebroke lyn. Aan die regterkant bedreig die brandlyn tans geen strukture nie,” het Otto gesê.

Verder het sy gesê die brande in Breedevallei en Witzenberg woed steeds buite beheer.

“Die spanne het laat weet die koeler nagtemperatuur gepaard met byna geen wind het tot ’n stiller nag met beter uitkomste op beide brande gelei. Die warm, droë weersomstandighede en die brandstoflading van verouderde fynbos, uitheemse plantegroei of ’n kombinasie daarvan is perfek vir brande, wat ook die uitkomste van brandbestrydingsaktiwiteite beïnvloed.”

’n Baie sterk noordwestewind het egter later Maandagoggend weer opgesteek, wat kommer wek..

KWDM-brandweerdienste en hul gekontrakteerde grondspanne, NCC, en lugondersteuning, Leading Edge Aviation, werk saam en word ondersteun deur die Weskus-distrik-, Swartland-, Breedevallei-, Drakenstein- en Witzenberg-munisipaliteite, CapeNature, Volunteer WildFire Services, Working on Fire, die departement van bosbou, visserye en die omgewing, die provinsiale rampbestuursentrum en die brandbeskermingsvereniging, wat ook deel is van die voorvalbeheerpunt.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article