Twee van die vyf kinders wat Sondag in die gru-ongeluk op die N1 by Brackenfell gesterf het, is van die Koue Bokkeveld.

Die oorledenes was deel van 11 passasiers in ’n Ford Bantam-bakkie. Volgens die bestuurder se broer is die driejarige seuntjie en dogter, van wie se ouderdom hy onseker is, die bestuurder se vrou se suster se kinders.

“Hulle het by my broer se vrou se ma op Ceres gaan kuier daai dag,” verduidelik die broer.

Die ongeluk het Sondagaand omstreeks 23:15 op die N1 in die rigting Kaapstad, tussen Brackenfell Boulevard en die R300-afrit, gebeur, volgens ’n Facebook-inskrywing van Titanium Securitas wat op die ongeluk gereageer het.

“Met hul aankoms het die Titanium Securitas Mediese reaksiespan al die beseerdes wat oor die toneel versprei was, gevind. Ongelukkig is vyf kinders met hul aankoms dood verklaar weens die erns van hul beserings. Nog ses beseerdes is op die toneel gevind met beserings wat wissel van geringe tot ernstige beserings.

“Daar word geglo dat die bestuurder beheer oor sy voertuig verloor het, wat daartoe gelei het dat hy teen die versperring gebots het.

“Die bestuurder is op die toneel deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens in hegtenis geneem,” lui die inskrywing.

Volgens Eric Ntabazalila, ’n woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, is die bestuurder Dinsdag op borgtog van R5 000 vrygelaat op voorwaarde dat hy nie die saak met enige van die getuies bespreek nie.

Hofdokumente toon dat hy aangekla is van strafbare manslag en dat hy onder die invloed van alkohol was ten tyde van die ongeluk.

Die 40-jarige bestuurder en sy gesin woon in Moorreesburg. Hy sal weer op Vrydag 18 Augustus in die hof verskyn.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article