Die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) is in gesprek met die leierskap van die polisie ná ’n onsmaaklike voorval verlede Woensdag (30 Oktober) toe lede van die polisie en provinsiale verkeersdienste tydens die bekendstelling van die Veiliger Feestyd-veldtog ’n kapingsreaksie-demonstrasie uitgevoer het deur “aggressief” op die munisipale tartanbaan op Bolandpark-stadion in Worcester te bestuur.
“Die Breedevallei-munisipaliteit spreek hiermee sy teleurstelling uit oor die betreurenswaardige voorval wat plaasgevind het tydens ’n onlangse SAPD-paradedag wat by die Bolandpark-sportterrein aangebied is,” lui ’n Facebook-inskrywing deur die munisipaliteit.
“Video’s wat op sosiale media sirkuleer, wys onder andere hoe lede van die polisie en provinsiale verkeersdienste ’n kapingsreaksie-demonstrasie uitvoer, wat aggressiewe bestuur op die munisipale tartanbaan behels.
“As munisipaliteit neem ons die nodige kennis en erken ons die kommer en gevoel van frustrasie wat deur lede van die atletiek-broederskap, breër sportgemeenskap en algemene publiek gelug word.”
Luidens die inskrywing het die BVM gebruiksreg van die Bolandpark-sportterrein aan die polisie toegestaan om ’n paradedag aan te bied – ’n aktiwiteit wat nie onbekend is aan munisipale sportfasiliteite nie; Bolandpark ingesluit.
Die inskrywing lui dat die geleentheid aanvanklik nie geskeduleer was om op Bolandpark aangebied te word nie, maar weens tegniese uitdagings met betrekking tot die aanvanklike fasiliteit het die polisie op kort kennisgewing ’n versoek vir gebruik by die munisipaliteit ingedien.
Die kaping-reaksie-demonstrasie is nie goedgekeur of onderskryf as deel van die BVM se besluit om gebruiksreg toe te staan nie. Daarom is die BVM in gesprek met polisie-leierskap oor die voorval.
“Ek het nou al baie gesien, maar dis die ergste. Wie gee toestemming vir so iets?” vra ’n lid van die publiek, wat ontsteld is oor die voorval, op Facebook.
“Ongelukkig is dit nie die eerste keer nie. Onthou julle die motorfietsresies wat op die baan plaasgevind het?” lui nog ’n Facebook-inskrywing,
Chris Visagie, ’n onderwyser en atletiek-afrigter, sê aan Standard Breederivier Gazette al is die baan al klaar in ’n slegte toestand, gee dit niemand die reg om so daarop tekere te gaan nie. “Wat gebeur het, was verskriklik,” sê hy.




