Worcester se gemeenskap is geruk met die nuus dat een van sy bekende minnesangers, William Frederick Springveldt (82), of net Boetie soos hy alom bekend was, Saterdagoggend ná ’n kort siekte tuis oorlede is.
Boetie, een van ’n uitgelese geslag kuipers, was ’n gebore en getoë Worcesteriet wat volgens sy dogter, Florence, reeds terwyl hy nog op skool was, aan dié vaardigheid blootgestel is, toe hy ná skool die fynere kuns van vatmakery by sy oom en ouer broer geleer het. Ná skool het hy hiermee voortgegaan en vervolmaak en die tuig ná meer as 35 jaar as kuiper nie-amptelik neergelê.
Hoe knap hy egter in sy beroep was, spruit uit die feit dat hy later as begeleier vir toergroepe aangewys is waar hy met staaltjies en praktiese demonstrasies vir toergroepe kon demonstreer hoe vate met die hand gemaak en met deernis afgewerk is.
Boetie was 57 jaar getroud met Dina, ’n nooi Morris doer van Fullarton uit die Oos-Kaap, en uit dié huwelik is twee kinders, ’n dogter (Florence) en ’n seun, Sean, gebore. Hy was ook die trotse oupa van drie kleinkinders (twee dogters en ’n seun) en ook die oupagrootjie van twee agterkleinkinders (albei seuns).
Boetie was veral geliefd as minnesanger en gewis die groot aantrekking by sy gemeente se jaarlikse Paasbasaar, waar hy gaste gewoonlik met sy vertolking van enigiets van Elvis Presley tot Tom Jones of Frank Sinatra vermaak het.
Hy was ook ’n gerespekteerde lid van die Emmanuel Congregational-kerk en aktiewe lid van die kerkkoor. Hy het gereeld as solis in sy gemeente en by ander gemeentes en veral by begrafnisse opgetree. Hy was ook die afgelope aantal jare ’n instelling by die gemeentebasaar van die VGK Worcester-Oos, waar hy basaargangers saam met sy klawerbordspeler, die siggestremde Donny Fortuin, vermaak het.
- Hoe minsaam en geliefd hy was, is duidelik uit die letterlik honderde blyke van meegevoel wat ingestroom het via WhatsApp, Facebook, radio-boodskappe en selfs besoeke aan huis nadat sy afsterwe rugbaar geword het.





