’n Uiters omvattende studie is pas afgehandel wat aandui waarom, en hoe vinnig, boere in Suid-Afrika padgee van hul plase af.
Dr. Kandas Cloete, ’n boorling van Laingsburg, het in haar PhD-studie in landbou-ekonomie na vrae rakende hierdie kwessie gekyk.
Haar proefskrif verskaf onder meer nuwe insigte in faktore wat produsente se besluit om uit die sektor te tree, beïnvloed.
Bly of gly – dis die vraag
Hierdie studie is tot nou die grootste in sy soort wat ondersoek instel na die uittreebesluite en die tempo waarteen produsente hul plase in die land verlaat.
Cloete, wat op ’n plaas buite Laingsburg grootgeword het, het haar studies in die departement landbou-ekonomie in 2021 voltooi. Sy werk tans as ’n senior analis vir die Buro vir Voedsel- en Landboubeleid (BFAP).
“Ons almal ken iemand, of weet van iemand wat iemand ken, wat in die afgelope paar jaar uit die landbou getree het,” sê sy. “Die vraag waarom produsente boerdery laat vaar en hul grond verkoop, is ’n onderwerp wat histories in data-tabelle en vanuit ’n beleidsperspektief gedek is. My belangstelling was om vooruit te skat of hierdie patroon gaan voortduur, en wat die dryfkragte is agter die besluit om uit te tree of aan te bly.”
In leketerme het Cloete se studie gefokus op die besluite wat produsente wat uit die boerdery wil tree, waarskynlik ten opsigte van grondgebruik gedurende die volgende tien jaar gaan neem, en op die wyse waarop hierdie besluite moontlik die landboustelsel kan beïnvloed.
Sy sê: “Grondvraag en -aanbod bly ’n komplekse en veelsydige verskynsel, maar dit kan in kleiner dele opgebreek word deur gestruktureerde ontledingsmetodes soos in hierdie studie te gebruik.”
Ten einde faktore te identifiseer wat produsente se bereidwilligheid dryf om hul grond te verkoop, het Cloete die terugvoer van 450 deelnemers aan ’n opname oor grondgebruikspatrone oorweeg.
Cloete het produsente wat beplan om uit te brei, diegene wat hul boerderywerksaamhede wil behou soos dit tans is, en diegene wat beplan om uit die sektor te tree, ingesluit.
Deur middel van ’n ontleding wat 23 veranderlikes behels het, het sy vier afsonderlike groepe respondente geïdentifiseer: die “ambisieuse”, die “volhouers”, die “uittreders” en die “aanblyers”.
Een uit vyf produsente wil uittree
Een uit elke vyf van die produsente wat aan Cloete se studie deelgeneem het, het aangedui hulle beplan om binne die volgende dekade uit die boerdery te tree.
Hoewel “uittreders” binne die volgende dekade uit die boerdery gaan tree, beplan produsente in die “ambisieuse”, “volhouer”- en “aanblyer”-groepe om aan te hou boer.
Verder dui die data daarop dat produsente wat tans tussen 30 en 45 jaar oud is, meer waarskynlike kandidate is om uit die boerdery te tree as dié wat tussen 45 en 65 jaar oud is.
Cloete kan nou, tot in besonderhede, die gemiddelde produsent wat binne die volgende dekade waarskynlik uit die boerdery gaan tree, beskryf. “Hy is ’n derdegenerasie- 54-jarige individu met 26 jaar ondervinding en ’n kollege- of universiteitsgraad,” sê sy. “Hierdie produsent betaal tipies nog af aan langtermynlenings, terwyl hy ook produksielenings en ander soorte skuldkapitaal gebruik.
“Gegewe die finansieel beperkende posisie waarin hy homself bevind – tesame met ’n gebrek aan sakevertroue – is sy finansiële strategie om sy plaaswerksaamhede in te krimp eerder as uit te brei. Gevolglik bly dit ’n uitdaging om verskeie lenings te bestuur terwyl hy ook vir aftrede moet beplan.”
Alhoewel die besluit om in die landbousektor aan te bly of uit te tree dikwels ’n persoonlike besluit is wat deur die unieke omstandighede van die produsent gedryf word, het Cloete steeds sekere gemeenskaplike temas tussen die vier verskillende groepe gevind.
Boerdery-uittreebesluite word deur beleggingskoste, finansiële beperkings en die produsent se ouderdom beïnvloed, wys Cloete se resultate. Ander beslissende faktore sluit in aftrede sonder opvolging, finansiële probleme, ’n gebrek aan betroubare arbeid, onsekerheid aangaande grondhervormingsbeleid en kommer oor landelike veiligheid.
Hoewel geen verband tussen omset en uittreeplanne vasgestel kon word nie, sou ’n groter omset (van meer as R10 miljoen per jaar) gewis ’n rol kon speel in die besluit om aan te bly.
Cloete sê produsente se besluite om aan te hou boer, word ook deur sakevertroue en produksielenings beïnvloed. “Dit is gewoonlik ’n kombinasie van verskillende faktore wat die besluit om uit die boerdery te tree en die grond te verkoop, bepaal,” sê sy.
‘Grondmark funksioneer goed’
Cloete sê genoeg grond is as gevolg van die uittreeplanne van sekere produsente in die mark beskikbaar om ander wat óf tot die sektor wil toetree óf hul huidige werksaamhede wil uitbrei, te akkommodeer.
“Die resultate wys dat die Suid-Afrikaanse grondmark inderdaad goed funksioneer,” sê sy.
“Dit word bewys deur produsente se voorneme om uit die boerdery te tree. Daarom is grondaanbod – in die algemene sin – nie ’n beperkende faktor in transformasie (in die landbousektor) nie.”
Nogtans word die grondmark in ’n mate beperk deur hindernisse vir die uittrede uit die boerdery, wat omsit in ’n direkte hindernis tot toetrede vir voornemende boere.
“Dikwels skep een persoon se besluit om uit te tree ’n geleentheid vir iemand anders. Daardie produsente wat besig is om uittreeplanne te maak, is ook besig om uitbreiding deur ander produsente en toegang vir nuwe toetreders moontlik te maak.”
Cloete het die faktore wat produsente kan verhinder om uit die boerdery te tree en wat hul besluitnemingsproses mag beïnvloed, gekategoriseer as relevant tot een van drie faktore: finansiële kwesbaarheid, versonke koste (bates aangekoop teen sekere pryse, wat nie teen boekwaarde verkoop kan word nie) en transaksiekoste (die totale koste verbonde aan ’n verkooptransaksie).
Daarby is pagsoek, grondeienaarskap en die persepsie dat grondmarkpryse sal groei, ook geïdentifiseer as hindernisse tot uittrede (uit die boerdery).
Cloete sê iets wat wel kommerwekkend is, is die aantal produsente wat beplan om voort te gaan met hul werksaamhede ten spyte daarvan dat hulle beperk word deur bestaande finansiële verpligtinge en die feit dat hulle nie beplan om in die toekoms te belê nie.
“Terwyl dit lyk asof daar gesamentlik ’n groot aptyt is om, by wyse van spreke, die bul by die horings te pak, word sommige produsente genoodsaak om uitdagings na die beste van hul vermoë te hanteer, terwyl hulle kan, om waarde op die inkomste- en balansstate toe te voeg.
“Baie produsente sal egter uiteindelik aftree en hul plase verkoop omdat geen ander lewensvatbare oplossing beskikbaar is nie.”
Nogtans beïnvloed finansiële kwesbaarheid, as gevolg van die risiko’s verwant aan boerdery, produsente se finansiële posisie en laat dit dikwels produsente wat ouer word, onvoorbereid vir aftrede, sê Cloete.
“Moontlik is die grootste kwessie nie die verlies van 20% van ons produsente wat binne die volgende tien jaar gaan uittree nie, maar eerder die feit dat diegene wat behoort uit te tree, hulself vasgevang vind deur die hindernisse tot uittrede en dus nie ’n uittreestrategie het nie,” voeg sy by.
Cloete het finansiering van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) ontvang.





