Die Cape Leopard Trust, in samewerking met kenners van die Herding-akademie en CapeNature, gaan binnekort ’n reeks werksessies oor holistiese grondbestuur en volhoubare boerdery in harmonie met roofdiere aanbied.
Die drie voldagwerksessies sal poog om metodes vir roofdier-konflikverligting, boerderybestuur en -praktyke wat die natuur beskerm en boere bevoordeel, asook voedselsekuriteit verhoog, oor te dra en aan te moedig.
Waarom is hierdie werksessies nodig?
Die luiperd is die laaste groot roofdier en laaste lid van die Groot 5 wat nog vrylopend in die Wes-Kaap voorkom. Hoewel luiperds dit verkies om natuurlike prooi te vreet, kan hulle per geleentheid opportunisties jag maak op lewende hawe en só beduidende ekonomiese skade aanrig.
Om saam met roofdiere asook in droogtes en uiterste weerstoestande te boer, is van die vele uitdagings wat boere moet trotseer. Die “Boer saam met die Natuur”-werksessies lig kommersiële boere wat in harmonie met die natuur wil boer, in dat dit nie net moontlik is nie, maar inderdaad voordelig is om produktiwiteit en volhoubaarheid te verhoog.
Die holistiese bestuurmetodes wat in hierdie werksessies aangebied word, sal nie net individuele boere baat nie, maar ook die Wes-Kaap se fauna en flora, wat van internasionale belang is.
As die toproofdier (apex predator) van een van die wêreld se mees biodiverse streke, is die luiperd ’n belangrike beheermeganisme vir die florering van die hele ekostelsel.
Aanbieders van die werksessies hoop om die konflik tussen mens en roofdier te verminder en so luiperds en ekostelsels te bewaar. Daarby, deur te boer vir biodiversiteit en die plaas as deel van die hele ekologiese stelsel in ag te neem, kan die impak van droogtes verminder en die langtermynvolhoubaarheid van die boerdery verhoog word.
Die detail:
Al drie sessies sal tussen Augustus en Oktober vanjaar by twee plekke in die Wes-Kaap gehou word – by Montagu Country Hotel en die Langgewens-navorsingsplaas tussen Malmesbury en Moorreesburg. Deelnemers word aangemoedig om die hele reeks werksessies by te woon om die leermateriaal optimaal te kan benut, maar dis ook moontlik om individuele dae by te woon.
Deelname kan deur die Cape Leopard Trust se aanlyn winkel (capeleopard.org.za/shop/events) bespreek word. Koste beloop R200 vir ’n voldagsessie of R550 vir al drie sessies. Die werksessies begin om 09:00 en eindig om 16:00. Middagete is ingesluit.


