Die polisie is besig met ’n geregtelike doodsondersoek nadat ’n boer van ’n plaas naby Wolseley ’n vermeende rower glo verwurg het.

“ ’n Lykskouing sal gedoen word om die oorsaak van dood te bepaal. ’n Saak van huisroof word ook ondersoek,” het kaptein F.C van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, aan Standard & Gazette gesê.

Die polisie maak egter geen melding daarvan of die boer in hegtenis geneem is en of daar ’n moontlikheid vir inhegtenisneming is nie.

Standard & Gazette het tevergeefs by die boer probeer navraag doen. Hy het egter met ’n susterpublikasie gepraat en die volgende gesê; “Hoe gaan jy voel? Jy skrik wakker en ’n man lê bo-op jou en baklei met jou? Ek moet voor God gaan staan – dis nie lekker nie.”

’n Wolseley-gemeenskapslid het in ’n inskrywing op Facebook, wat nou verwyder is, sy mening oor die situasie gedeel.

“Ons stilswye tydens vergrype en die pleeg van wandade teen die weerlose in ons gemeenskap maak ons medepligtig aan die euwels waaroor ons stilbly. Ons vra vir opregte leierskap en deursigtigheid met die hantering van die ‘onverklaarbare’ dood van ’n onbekende jong man op ’n plaas buite ons dorp, Wolseley. Die ongelooflike stilswye en geheimhouding rondom hierdie voorval is tans ’n groot bron van kommer. Ons dank die regbank en die vervolgingsgesag by die Wolseley-hof, wat hulle sterk uitgespreek het teen enige pogings om doelbewus die prosesse van die gereg te dwarsboom. Wolseley SAPD is tans ’n leierlose dobberende bootjie. Iets waaroor ons as wetsgehoorsame burgers uiters bekommerd moet wees. Iemand se seun, broer, pa, neef, boyfriend, swaer, of vriend lê tans vir ’n sewende dag in ’n lykshuis en ons weet nie of die naasbestaandes ingelig is van sy dood nie. Die Wolseley-gemeenskap roep om leierskap, leierskap, leierskap, en nogtans leierskap.”

Die boer het glo erken dat hy die vermeende rower met ’n koord tydens die voorval verwurg het.

Die oorledene se identiteit is nie met Standard & Gazette gedeel nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article