Die bobbejaan wat die hele Paarl aan die gons gehad het nadat hy die afgelope naweek in die Paarl gearriveer het, is veilig terug in die Dutoitskloofberge.
Die naweek is hy opgelet waar hy in die son bak op die dak van ’n fabriek in Distillerystraat. Nadat hy verder hier die naweek vertoef het, het hy vlugtig Maandagoggend verdwyn, net om weer sy verskyning op geen ander plek te maak nie, maar op die voorstoep van Drakenstein-munisipaliteit se hoofkantoor in die Bergrivier Boulevard.
Dit is onduidelik of hy betyds vir ’n raadsvergadering was of nie. Daar word vermoed dat hy dalk té veel kerjakker het, en daarom deur bome, en op dakke ’n ander uitweg na die raadsaal moes vind omdat die deure na die saal reeds gesluit was.
Halfpad het die ou immers onder die bome by die munisipaliteit gestop vir ’n blaaskans en ’n bietjie padkos en daarna weer sy pad deur die akkerbome se takke gevind.
Volgens ’n munisipale wetstoepasser op die toneel word daar op ’n plaaslike veearts gewag om die bobbejaan te verdoof sodat die munisipaliteit hom na ’n veilige plek kan skuif.
Die wetstoepasser het bevestig dat die bobbejaan se hervestiging op die munisipaliteit berus, en hierdie keer nie op CapeNature nie.
Die bobbejaan is eers met ‘n vanghok probeer vang, maar hy het verkies om eerder bo-op die hok te gaan sit as binne-in. Vroeg Maandagaand is daar besluit dat die enigste uitweg is, is om die bobbejaan met ‘n verdowingspyl te skiet.
‘n Veearts van Wellington het die taak suksesvol behartig en die kees is geskiet terwyl hy op die boonste verdieping van die munisipalegebou gesit het, en toe hy val, is hy veilig binne-in ‘n kombers-trampolien gevang.
Hy is later die aand in die berge vrygelaat.
Hiérdie waarneming in die Paarl is die eerste een sedert die groot mannetjiesbobbejaan, genaamd Kees, 11 jaar gelede op Paarlberg en die Bellevue-wingerdproefplaas in Bergstraat gesien is.
Kees is vermoedelik later daardie jaar, in 2013, in die tuin van ’n werkershuis op Laborie-wynlandgoed omsingel en met stokke doodgeslaan.
CapeNature kon nie bereik word vir kommentaar nie, maar waarsku mense oor die algemeen dat hul versigtig moet wees teenoor wilde diere en hulle nie moet voer of teister nie.



