Die begroting vir die volgende geldjaar is deur die BVM-raad goedgekeur te midde van ernstige besware van die party Breedevallei Onafhanklik (BO) oor hoe die begrotingsdebat op die raadsvergadering hanteer is.

Hoewel die munisipaliteit nog wag vir die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) se finale beslissing oor die persentasie waarmee die prys van elektrisiteit kan styg, sê hy dit sal nie hoër as die aanbevole syfer wees nie. Hy verwag om binnekort ’n aankondiging hieroor te doen, maar dit behoort in die omgewing van 7,5% te wees, luidens begrotingsdokumente.

Die opwaartse tariefaanpassing vir die volgende geldjaar vir water is 5,5%, vullisverwydering 5,4% en riool 5,6%.

Eiendomsbelasting sal na verwagting met 5% styg as die nuwe waardasierol in ag geneem word.

Intussen het lede van die opposisieparty, Breedevallei Onafhanklik (BO) in ’n onderhoud met Standard gesê hulle is baie ongelukkig oor hoe die begrotingsdebat op die raadsvergadering hanteer is. Volgens die BO-leier, Colin Wilskut, is hy vroeër weens ’n onverwante aangeleentheid deur die speaker, Frank van Zyl, gevra om die raadsaal te verlaat, maar is nie toegelaat om terug te kom om sy insette oor die begroting te lewer nie.

“Die speaker maak sy eie reëls. Die burgemeester het vroeër belowe die tafel sal oop wees vir bespreking van die begroting, en dit is toe nie toegelaat nie. Slegs enkele sprekers is toegelaat en die BO het nie die geleentheid gehad nie. Die begroting moet ’n werklike invloed hê – daar waar dit saak maak – en dit moet gebalanseerd onder al die wyke verdeel word, en hierdie begroting is nie so ’n begroting nie.”

Die BO het gesê hy gaan binnekort ’n “skadubegroting” bekend maak.

In haar boodskap oor die begroting het Antoinette Steyn, die BVM-burgemeester, gesê hulle bly toegewy om dienste aan alle huishoudings te lewer. “Hierdie begroting dien die doel om toekomstige dienslewerings­doelwitte uit te stippel deur die afgelope geldjaar in ag te neem met die beplanning vir toekomstige ontwikkeling. Die huidige werklikheid het tot nou ’n verwoestende uitwerking op ons gemeenskappe gehad deur die verlies aan inkomste, werk en lewens. Hierdie pandemie het verander hoe ons ons daaglikse lewe lei en hoe ons met mense omgaan.”

Sy het verder gesê die munisipaliteit onderneem om agterstallige dienste in te haal en voorkeur aan noodsaaklike dienste te gee.

Die algehele begroting vir 2022-’23 maak voorsiening vir ’n omset van R1,674 miljard, waarvan kapitaalprojekte R318,5 miljoen en bedryfsuitgawes R1,355 miljard beloop.

Die huidige staatspensioen- en ongeskiktheidstoelaag vir mense 60 jaar en ouer is beperk tot ’n maksimum inkomste van R4 500. Die praktiese implikasie hiervan vir die komende geldjaar maak voorsiening vir ’n pensioentrekkerskorting van 100% gratis huur van munisipale huureiendom, ’n gratis maandelikse elektrisiteitstoekenning van 50 kilowatt, ’n gratis maandelikse watertoewysing van 10 kiloliter, 100% gratis sanitasiedienste, 100% gratis vullisverwyderingsdiens en 100% gratis eiendomstariewe vir eiendomme ter waarde van minder as R270 000.

Inwoners wat in armoede leef of werkloos is en gesamentlike huishoudelike inkomste van R4 500 of minder verdien, kom in aanmerking vir ’n subsidie wat as volg gestruktureer is: 100% gratis huur van munisipale eiendom, ’n gratis maandelikse watertoewysing van 10 kiloliter, ’n gratis maandelikse elektrisiteitstoewysing van 50 kilowatt en 50% afslag op vullisverwyderingsdienste en sanitasiedienste.

Daar is ook 50% gratis eiendomstariewe vir eiendomme wat minder as R270 000 werd is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article