Miljoene mense het Vrydag letterlik stilgestaan voor “die blou skerm van die dood” toe ’n sagtewareprogram Vrydag wêreldwyd rekenaarprobleme veroorsaak het.

Credit: Lise Beyers

Derduisende ondernemings en verskillende nywerhede is Vrydag negatief geraak deur ’n foutiewe opdatering van CrowdStrike Falcon.

CrowdStrike Falcon is ’n Amerikaanse maatskappy en Falcon is ’n sagtewareproduk wat veronderstel is om rekenaars teen kuberaanvalle te beveilig. Slegs rekenaars wat Microsoft Windows gebruik, is hierdeur geraak.

Die mees noemenswaardige maatskappy wat in Suid-Afrika hierdeur geraak is, was Capitec bank. Rekeninghouers kon nie toegang tot hul rekeninge kry, geld trek of transaksies met hul bankkaarte aangaan nie.

Die uitvoerende hoof van CrowdStrike, George Kurtz, het Vrydag op hul webtuiste verskoning gevra.

“Ek wil julle almal opreg om verskoning vra vir die onderbreking. Die hele CrowdStrike verstaan die erns en impak van die situasie. Ons het die probleem vinnig geïdentifiseer en ’n oplossing ontplooi, wat ons in staat gestel het om ywerig daarop te fokus om kliëntestelsels as ons hoogste prioriteit te herstel,” lui die inleiding.

Verder verduidelik hy die onderbreking is veroorsaak deur “die een of ander defek”.

“Die onderbreking is veroorsaak deur ’n defek wat gevind is in ’n Falcon-inhoudsopdatering vir Windows-gashere. Ons werk nou saam met kliënte en vennote wat geraak word om te verseker dat alle stelsels herstel word, sodat julle die dienste kan lewer waarop jul kliënte staatmaak,” het hy Vrydag in die verklaring wat op hul webtuiste gedeel is, gesê.

Party stelsels het later Vrydag begin werk, maar talle ander rekenaars en programme het egter die gees gegee.

Kurtz het gebruikers van die Falcon-program Maandag gerusgestel deur te sê hierdie probleem was nie ’n kuberaanval nie.

“CrowdStrike help tans aktief kliënte wat geraak word deur ’n defek in ’n onlangse inhoudsopdatering vir Windows-gashere. Mac- en Linux-gashere is nie geraak nie.

“Die probleem is geïdentifiseer en geïsoleer, en ’n oplossing is ontplooi.

“Dit was nie ’n kuberaanval nie.”

Hy sê ook hulle sal gereeld opdaterings plaas en organisasies moet verifieer dat hulle met CrowdStrike in verbinding is.

“Ons sal ook voortgaan om die jongste inligting hier en op ons blog te verskaf sodra dit beskikbaar is. Ons beveel aan dat organisasies verifieer dat hulle deur amptelike kanale met CrowdStrike-verteenwoordigers kommunikeer.”

Plaaslik het groot organisasies soos die Breedevallei-munisipaliteit gesê hulle is nie deur die probleem geraak nie.

’n Hofklerk het gesê hul e-posse was net ’n bietjie stadig, maar al hul programme en rekenaars het gewerk.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article