Worcester se gewilde groentesmous, Riaan Jacques Majiedt, (Blommie) is dood.Foto:


‘n Alombekende en gewilde groentesmous, wat met sy pittige sêgoed diep in die hart van menige wat sy pad gekruis het, gekruip het, is vroeër vandeesmaand skielik in sy huis oorlede. Die 52-jarige Riaan Jacques Majiedt, wat die laaste ruk met erge diabetes gesukkel het, was ’n gebore en getoë Worcesteriet.

Hy het die afgelope meer as 10 jaar ’n groente- en vrugtestalletjie aan die Porterstraatkant van Shoprite bedryf.

Riaan, of Blommie, soos hy aan sy vriende bekend was, het sy laerskool-opleiding aan Moslem Primêr voltooi en sy hoërskoolloopbaan aan Worcester Sekondêre Skool. Hy het by Rainbow Chickens begin werk en net meer as 10 jaar gelede sy eie vrugte- en groente-stalletjie begin – op aanbeveling van sy destydse mentor, wyle Georgie Fortuin, wat in daardie stadium ‘n bekende in smouskringe was.

Blommie was met sy innemende persoonlikheid en natuurlike aanvoeling vir die bedryf sommer gou ’n bekende gesig waar hy elke dag sy stalletjie beman het.

Hy was versot op sport en het self vir Double Foot Shooters sokker gespeel.

Hy het later ’n groot ondersteuner van Young Hamiltons geword nadat sy broer Mervin vir die klub begin speel het.

Riaan was voorwaar ’n mense-mens wat veral ’n sagte plekkie vir mense in nood gehad het en het dikwels uit sy pad gegaan om uit te reik na mense in nood.

Riaan, wat sy ma Alet, ’n broer en twee susters asook ’n seun en dogter en drie kleinkinders agterlaat, word Saterdag 16 September om 11:00 by sy ouerhuis,Van Huyssteen-laan 139 en 12:00 by die VGK Worcester-Oos, ter ruste gelê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article