Die Wes-Kaapse Bloeddiens (WKBD) doen ’n beroep op alle skenkers om bloed te skenk aangesien bloed-voorraad kritiek laag is.
“Die winter het ’n ernstige uitwerking op ons bloedvoorraad en ons is midde-in ’n ernstige bloedvoorraadtekort”, sê Marike Carli, openbare betrekkinge bestuurder by WKBD.
Daar is ’n kritieke tekort in die O- en B-bloedgroepe, met slegs ’n 2-dag voorraad oor. Die A-positiewe bloedvoorraad is ook onder erge druk aangesien slegs ’n 3-dae-voorraad oor is. WKBD streef altyd daarna om ’n bloedvoorraadvlak van 5 dae te hê. Die winterweer is nie bevorderlik vir uitgaan nie, en met die aanhoudende storms in Kaapstad sien hulle die uitwerking op hul bloedvoorraad. Bloedskenkers ly gedurende hierdie tyd aan verkoue en griep en kan daarna nie bloed skenk totdat hul simptome opgeklaar het nie.
Gedurende Junie vier WKBD Nasionale Bloedskenkermaand, aangesien hulle daarop gemik is om bewustheid te kweek oor die belangrikheid van vrywillige bloedskenking en die kritieke belangrikheid van ’n veilige, volhoubare bloedtoevoer. Duisende pasiënte benodig daagliks ’n lewensreddende bloedoortapping in Suid-Afrika. Afgesien van ongeluk- en ander trauma-verwante oortappings, benodig pasiënte ook oortappings om ’n lae bloedplaatjietelling reg te stel, pasiënte wat aan immuniteit- afwykings ly, chemoterapie ondergaan of wag op ’n beenmurgoorplanting, tydens bevalling en selfs diegene wat hartoperasies ondergaan. Bloed word elke dag benodig vir pasiënte in nood.
Om bewusmaking verder te verhoog, sal WKBD op Sondag, 25 Junie 2023 by myrun aansluit by hul verskeie geleenthede oor die Wes-Kaap heen. “Ons moedig almal aan om aan te sluit terwyl ons die merkwaardige daad vier om lewens te red deur bloedskenking,” sê Carli.
WKBD moedig almal aan om rooi of helder drag aan te trek om by die tema te pas. Wees ’n plaaslike held en skenk bloed.
. Vir meer inligting of om jou naaste bloedskenkkliniek te vind, besoek asseblief www.wcbs.org.za, of laai die WKBD-toepassing af. Deelnemers kan vir die myrun-wedloop registreer deur www.myrun.org.za te besoek.



