Cara Hartzenberg, ’n onderwyser van Worcester, het in Doebai skielik in haar klaskamer inmekaargesak en later gesterf. WNPS het hierdie foto met ’n boodskap van medelye op Facebook gedeel. Foto:


’n Jong onderwyser van Worcester is skielik in haar klaskamer oorlede.

Cara Hartzenberg (23) het in Desember na Doebai vertrek waar sy haar loopbaan as onderwyser sou voortsit.

Standard & Gazette het tevergeefs probeer uitreik na haar pa. Volgens ’n susterpublikasie het Hartzenberg op 28 Desember na Doebai vertrek, waar sy vroeër hierdie maand by ’n skool begin werk het. Die berig verduidelik verder sy het in haar klaskamer inmekaargesak en medici het 90 minute probeer om haar by te bring.

’n Vriend van Hartzenberg, wat ook daar skoolhou, het haar familie in kennis gestel en op hoogte gehou. Volgens die berig het sy ’n bloedklont ontwikkel wat tot haar sterfte gelei het.

Voordat sy weg is, het sy by Worcester-Noord Primêre skool gewerk. Hulle het ’n boodskap van medelye op hul Facebook-blad gedeel:

“Dit is met groot hartseer dat WNPS verneem van die hartseer nuus van die afsterwe van juffrou Cara Hartzenberg. Sy los diep spore agter, nie net by ons nie, maar in die harte van baie kinders en die gemeenskap, en ons weet haar goeie hart en warm glimlag sal ons altyd bybly. Ons gebede gaan uit na haar familie en vriende en die verlies tref ons almal baie diep. In hierdie stadium het ons nie verdere inligting nie en vra ook dat almal die familie se privaatheid sal respekteer.”

Nog ’n sosialemediagebruiker het haar hartseer oor Hartzenberg se sterfte op Facebook gedeel.

“Ek het nog gewag om iets te sê, want ek bly hoop hulle bel en sê hulle het ’n fout gemaak. Daar is so baie vrae en nie antwoorde nie. Ons het jou dan twee weke terug by die lughawe gegroet. Jy was so opgewonde (en bang) vir jou nuwe avontuur,” lui ’n gedeelte van die inskrywing.

“Jou tyd hier by ons was te kort! Jy sal vir altyd in ons harte wees. Jy sal altyd in die gees by ons voortleef. Ons trane loop die hele tyd. Ek belowe dat ek mooi na mamma, pappa, Fiem, Ouma en Oupa sal kyk. Rus sag my Liefie-kind,” lui nog ’n gedeelte van die inskrywing.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article