Bouwerk aan die splinternuwe grensmuur by die Esselenpark-stadion in Worcester sal teen nie later nie as 30 Junie 2025 voltooi wees.
So sê Hannelie Botha, ’n woordvoerder van die Breedevallei-munisipaliteit (BVM), aan Standard & Breederivier Gazette.
Volgens Botha is die projek goedgekeur en finansier vir implementering volgens die raad se goedgekeurde sportinfrastruktuur-meesterplan.
Botha sê die rasionaal vir die projek is om te verseker dat die fasiliteit se buitenste omtrek opgegradeer word om veiligheid en sekuriteit te verbeter. Sy sê deur dit te doen, versag die BVM die voorkoms en frekwensie van ongemagtigde toegang, wat dikwels lei tot die vernietiging, diefstal en vandalisme van kritieke infrastruktuur wat nodig is om die operasionele doeltreffendheid van die fasiliteit te verseker.
Volgens haar dien dit ook as die eerste punt vir die uitrol van toekomstige infrastruktuur- en diensopgraderings binne die fasiliteit, wat beter beveilig kan word as gevolg van ’n opgegradeerde omtrekheining.
Botha sê sowat R2,5 miljoen is in die 2023-’24-boekjaar begroot, waarvan R1,6 miljoen op 30 Junie 2024 bestee is.
’n Verdere R9,15 miljoen is in die 2024-’25-boekjaar begroot om met die bouwerk voort te gaan, met die verwagte voltooiingsdatum nie later nie as 30 Junie 2025.
Bouwerk aan die muur het reeds in die vierde kwartaal van die 2023-’24-boekjaar begin.
“Die materiaal (betonblaaie) wat in die konstruksie gebruik word, is gemaak om pogings van vernietiging en of verwydering te weerstaan.
“Daarom is ons hoopvol dat die installasie sy doel sal dien, maar kan dit ongelukkig nie waarborg nie. ’n Nuwe diensverskaffer vir die monitering van die kringtelevisiekameras op die terrein moet nog aangestel word.”
Afzhal Khan, ’n afrigter by die Worcester-krieketklub, sê “ons by Worcester-krieketklub is tevrede met die inisiatief wat met die opgradering van die Esselenpark-stadion geneem is”.
Khan sê hulle hoop van harte dat die nuwe grensmuur sal help om kwaaddoeners en vandale buite die stadion te hou.
“Aanvanklik het ons gedink dit [die grensmuur] is dalk te laag en kan steeds vir moeilikheidsmakers toeganklik wees. Die byvoeging van die doringdraad kan dit egter voorkom.”
Volgens Khan het die toestand waarin die vorige omheining was, baie probleme vir hulle veroorsaak wanneer hulle die gasheer was. “Ons hoop nou dit sal verander.”
Die voorsitter van die Brandvlei-krieketklub, Karel van Rooi, sê “dit vir ons goed om te sien dat BVM omgee vir sport in Worcester”.
“Ons kan nou met rustigheid oefen en die geriewe gebruik.
“Hierdie opgradering maak deelname aan sport soveel beter, want ons oefenvelde kan nou meer baat vind daarby.”
Grandville Fortuin, ’n afrigter van die krieketklub Worcester Victorians, sê hulle is verheug oor die nuwe muur.
Volgens hom voel die klub dat die nuwe ingang tot die stadion aan Fischerstraat se kant na die hoeke geskuif moet word.
Hy meen dit sal die aantal mense beperk wat die veld as kortpad gebruik.
Fortuin sê die klub is voorts bekommerd dat die betrokke ingang in Fischerstraat dalk vir vandale makliker toegang tot die terrein sal gee.
. Intussen sê Botha die bouwerk aan ’n nuwe grensmuur by die Bolandpark-stadion, ook in Worcester, sal na verwagting op 1 Julie 2026 begin.
Sy sê dit is egter onderhewig aan die bevestiging van beskikbare hulpbronne in die aanloop tot daardie spesifieke finansiële tydperk.
Volgens Botha is R10 miljoen vir bouwerk aan die grensmuur by Bolandpark-stadion in die 2024-’25-mediumtermyn-uitgawe-en-inkomste-raamwerk begroot [R2 miljoen in 2025-’26 en R8 miljoen in 2026-’27].




