Gerhard Trollip, ‘n bekende Blinde omroeper by Vallei FM, is deur iemand met ‘n vol bottel gegooi terwyl hy en sy seun op pad McDonald’s toe was.

Credit: SYSTEM

’n Blinde omroeper van Vallei FM is kwaadwillig deur iemand met ’n vol bottel agter teen die nek gegooi terwyl hy en sy seun op pad na McDonalds was, en nou kry hy nie veel hulp van die polisie nie.

Dié voorval plaas nou die kollig op die veiligheid van Blindes en gestremdes in die dorp en die uitdagings wat hulle het om hulp van die polisie te kry.

Gerhard Trollip sê hy was Sondag 20 Maart op pad McDonald’s toe met sy seun aan sy linkerhand en sy wit kierie in sy regterhand toe hy padgee vir iemand wat hy gehoor het van agter af hardloop. Hy sê hy het ’n harde hou teen sy nek gevoel toe die onbekende drawwer hom met ’n vol plastiekbottel gegooi het.

Trollip sê hy weet van menige maal waar Blindes aangeval of beroof is, maar weens ’n gebrek aan ooggetuies meld hulle nie ’n klagte aan nie. “Dit onderstreep vir my ’n probleem dat dit vir mense soos ek moeilik is om ’n klagte by die polisie aan te meld.”

Trollip sê dis goed dat sy kind by was, maar ook vernederend omdat niemand wil hê so iets moet voor jou kind gebeur nie. Hy het amper vir ’n week ná die voorval nie sy huis verlaat nie uit vrees dat so iets weer kon gebeur omdat ’n verdagte nog nie in hegtenis geneem is nie. “

Hy sê dit kan miskien vir ander mense klink na ’n “ligtelike aanval”, maar sê as hy niks daaraan doen nie, kan dit gereeld gebeur. Hy verstaan nie hoekom iemand net kwaadwillig ’n Blinde met ’n plastiekbottel sal gooi nie.

Sy enigste onmiddellike instink was om sy seun agter hom in te druk omdat hy hom wou beskerm. “Enige ouer maak eers seker sy of haar kind is veilig, en dit is wat ek gedoen het. Ek kon miskien my kierie blindelings geswaai het om die aanvaller by te kom, maar ek het gedink wat as dit meer as een is?”

Hy het die klagte volgende dag by die polisie aangemeld.

Niemand is veronderstel om in sulke vrees in hierdie dorp te lewe nie.

“Iewers moet ’n mens as ’n Blinde inwoner van die dorp ’n streep trek om te sê genoeg is genoeg. Hierdie mense, wat mense kwaadwillig aanval – veral Blindes – moet vervolg word, want wie kom net van agter af en besluit hy gaan jou nou met ’n bottel gooi?”

Hy baklei egter nou ’n opdraande stryd met die polisie om die verdagte vas te trek. Hy sê die diens wat hy van die polisie ontvang het, was uiters teleurstellend. Volgens hom het een van die kameras in die dorp die voorval vasgevang. “Ek sê weer vir baie kan dit onbenullig wees, want hulle kan in hul motors klim en is nie ’n teiken nie. Jy kan alleenlik sê dis onbenullig as jy bereid is dat ek jou blinddoek, ’n stok in jou hand druk en jy my paadjie elke dag loop en nie weet wat na jou kant toe kom nie, omdat jy gefokus moet wees op die verkeer en die pad. Jy het nie tyd om te luister vir verdagte voete wat agter jou aankom nie.”V Teen Woensdagoggend 30 Maart het Trollip steeds geen antwoord vanaf die polisie gekry nie. Standard het navraag aan die polisie gestuur, maar teen druktyd ook geen antwoord gekry nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article