Innovation for the Blind het op Vrydag 6 Oktober ’n skattejag en bewusmakingsveldtog in die Mountain Mill Mall aangebied.
Een van Standard se gasskrywers is genooi om aan hierdie veldtog deel te neem. Cliffie September is geblinddoek en toe deur ’n siende mens deur die winkelsentrum begelei. Die BVM se burgemeester, Antoinette Steyn, het ook hieraan deelgeneem en is ook geblinddoek en begelei.
September het die volgende oor hierdie ervaring gesê: “Ek is genooi na die Innovation for the blind (IFB) se bewusmakingsdag. Nadat die reëls aan ons voorgehou is, is ons geblinddoek. Ek het gevoel soos iemand wat spartel tussen die duiwel en die diep blou see. Dit was baie scary. Ek kom baie min in die mall en het verlore gevoel. Dit het gevoel of ek enige oomblik teen iets of iemand sou vasloop en dan sou val en seerkry. Ek was bang en gespanne. Gelukkig het ek ’n baie oulike en simpatieke gids in Sharon gehad. Ek kon aan haar arm vashou en sy het haar spoed by myne aangepas. Ons het by winkels ingestap en dan moes ek my reuksintuig gebruik om te identifiseer waar ons was. Met my plat neus het dit maar moeilik gegaan. Ek kon darem die pastawinkel uitruik.
“O ja, as jy volgende keer ’n blinde persoon groet of met hom praat, identifiseer asseblief jouself. Ná Vrydag het ek meer simpatie vir die blindes en veral vir die personeel van Innovation for the Blind. Hulle doen werklikwaar wonderlike en fantastiese werk.”
Die skattejag was deel van IFB se bewusmaking vir Nasionale Oogsorgweek. Hulle het ook uitreikaksies na aftreeoorde, kerke en skole onderneem.





