Quinten Pendle, ’n siggestremde onderwyser van Worcester, gebruik hierdie voetoorgang daagliks. Hy is vroeër in Augustus amper raakgery.Foto: JP Myburg


’n Siggestremde inwoner van Worcester is onlangs amper raakgery deur ’n bus – wat volgens ooggetuies doodeenvoudig die padreëls verontagsaam het.

Quinten Pendle, ’n musiekonderwyser by Pionierskool, het Vrydag 19 Augustus ’n groot skok gekry toe hy amper deur die bus getref is.

“Ek was op pad skool toe en gebruik daagliks die voetoorgang in Kerkstraat, reg oorkant Ons Winkel tussen Porter- en Napierstraat. Ek gebruik juis daardie verkeerslig sodat ek nie by ’n besige oorgang hoef te sukkel nie. Dit is een van daardie ligte waar jy eers ’n knoppie moet druk sodat dit vir jou van rooi na groen verander,” verduidelik hy aan Standard.

Van die oomblik dat jy die knoppie druk, neem dit gewoonlik 5 tot 10 sekondes vir die lig om van kleur te verander. As dit groen is, verander die geluid van die gonser ook wat aandui dat voetgangers maar kan loop.

“Vrydagoggend omstreeks 06:50 wou ek die pad weer daar oorsteek. Toe die gonser aandui dat die lig groen is, het ek begin stap, maar ek het skaars begin loop toe ek ’n swaar voertuig hoor aankom, en anders as altyd, hoor ek dat hierdie voertuig nie begin stadiger ry nie.”

Volgens Pendle het die bestuurder verwoed op sy toeter gedruk terwyl hy geskarrel het om terug op die sypaadjie te kom.

“Intussen het die voertuig gestop, maar die getoet het voortgegaan. Ek het iemand iets onhoorbaar uit die voertuig hoor skree. ’n Vrou wat daar verbygeloop het, het toe in die rigting van die swaar voertuig geskreeu ‘jy sal die man mos doodry!’ Sy het my toe oor die pad vergesel. Ek het gevra of sy dalk ’n registrasienommer kan sien, waarop sy negatief geantwoord het, maar het wel gesê dat dit ’n Brandvlei-bus is.”

Standard het na die Brandvlei-gevangenis uitgereik, maar niemand wou inligting verskaf nie.

Intussen het Nik Wullschleger, ’n raadslid van Breedevallei Onafhanklik, ’n brief aan die burgemeester gerig waarin gevra word dié saak en soortgelyke sake wat al in die verlede bespreek is, moet dringende aandag geniet. Hy sê sy party het al jare gelede ’n mosie ingedien om aandag aan hierdie probleem te gee. Verder eis Wullschleger en talle ander rolspelers in die gemeenskap dat die burgemeester en die verkeersafdeling dringend iets aan die situasie moet doen.

Die burgemeester, Antoinette Steyn, het aan Standard gesê “natuurlik is die gemeenskap as ’n geheel vir ons baie belangrik. Ons staan bekend as die omgeestad van die land, en daarom is ons blinde voetgangers ook ’n prioriteit. Ek het die skrywe ontvang en is teleurgestel in sommige padgebruikers se onvermoë om respekvol op te tree. Ek gaan na ons wetstoepassers uitreik om te kyk hoe ons sekere brandpunte kan bestuur. Ons sal koppe bymekaar moet sit en kyk wat ons kan doen. Ek weet ons spanne is só ingedeel om ’n beduidende verskil te maak – veral by skole en sekere padkruisings. Ons spanne doen hul bes om oral uit te kom en om sigbaar te wees in gebiede waar dié diens nodig is. Ons vat dit nie ligtelik op nie, want elkeen se veiligheid is vir ons ’n prioriteit.”

Pendle beklemtoon motoriste en voetgangers moet net doodgewoon die padreëls gehoorsaam. Dit is al wat veiligheid kan verseker.

Hy voel Worcester het in sy geheel meer bewusmaking nodig, veral as dit by siggestremde mense kom.

“Wanneer siggestremde mense mobiliteitslesse ontvang, word ontsettend groot klem by hulle gelê op verantwoordelikheid en die veilige gebruik van sypaadjies, verkeersligte ensovoorts. Ek dink ook in veral Worcester moet heelwat meer bewusmaking oor siggestremde voetgangers gedoen word.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article