Die Breedevallei-kankerorganisasie het Saterdag 19 November ’n klomp harte bly gemaak toe hulle pakkies en noodsaaklikhede aan kankerlyers en hul families gaan uitdeel het.Foto: JP Myburg


’n Groep weldoeners van Worcester wat onlangs ’n nuwe kankerorganisasie op die been gebring het, het Saterdag 19 November hul deel vir die gemeenskap se kankerlyers gedoen.

Die Breedevallei-kankerorganisasie (BKO) is in Augustus vanjaar op ’n ledevergadering gestig en die lede is vuur en vlam om geld in te samel vir diegene wat hulp benodig.

“Ons het die behoefte in die gemeenskap raakgesien. Ons sal graag geld vir kankerpasiënte wil insamel en donasies maak aan pasiënte, veral in die Breedevallei. Ons wil ook fokus op projekte wat ons lede en gemeenskap kan toerus met die nodige kennis en vaardighede in verband met kanker.”

Só sê die voorsitter van BKO, Lolita Soldaat, aan Standard.

Soldaat en haar mede-vrywilligers het tydens die afgelope naweek se uitreikaksie die nood in die gemeenskap raakgesien en verskeie pakkies uitgedeel vir kankerlyers en hul gesinne.

“Ons het kospakkies opgemaak en pakkies wat die noodsaaklikhede insluit, soos toiletware en ander produkte wat ’n behoefte is.”

Sy en haar span wil veral fokus op bewusmaking en die verspreiding van inligting wat tot voordeel van elkeen in die gemeenskap kan wees.

“Ons spits ons ook daarop toe om verhoudinge in die gemeenskap te bevorder en onsself toe te rus met kennis sodat ons ook sodoende ’n trotse beeld na buite uitstraal wat ons sal help met geldinsameling ten opsigte van kanker.”

Die span werk al jare saam aan verskeie ander projekte en wil nou hande vat om kankerlyers in die gebied so goed as moontlik te ondersteun.

“Ons almal was deel van Kansa se Relay For Life en so het ons die behoefte in die dorp gesien, en ons as lede het besluit om die organisasie op die been te bring om ons pasiënte in die Breedevallei te help met wat ook al die nood is. Ons wil help met gratis voeding en selfs doeke. Ons wil help om die las te verlig met die verhuur van apparate soos byvoorbeeld ’n hospitaalbed, rolstoel of suurstoftenk,” voeg Soldaat by.

Die organisasie se leuse is “Een span, een droom” en hulle poog om nog baie behoeftes in die gemeenskap aan te spreek en diegene wat deur kanker geraak is te ondersteun en op te hef.

Soldaat kan by 083 287 0604 gekontak word, die sekretaresse, Natasha Johnson, by 082 712 5435 of via e-pos by breedevalleycancerorg@gmail.com

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article