’n Groot groep mense wag voor binnelandse sake se kantoor in Worcester.Foto’s: Dominique Jeftha


Om by binnelandse sake in Worcester gehelp te word, is soos ’n nagmerrie wat nie wil eindig nie.

Om enige antwoorde uit amptenare te kry oor wat daar aangaan, is ook haas onmoontlik. Standard is van bakboord na stuurboord gestuur hieroor.

Lang rye by binnelandse sake is niks nuuts vir inwoners nie, maar sedert die begin van die Covid-pandemie het werksaamhede by dié departement se Worcester-kantoor tot al hoe meer pyne vir mense wat hierdie dienste nodig het, gelei.

Standard het Vrydag (4 Maart) foto’s van die rye gaan neem en probeer uitvind wat die gemiddelde tydsduur was wat mense daar staan.

By ons aankoms het drie rye teen wisselende “spoed” beweeg. Een besoeker het gesê die ry vir mense wat tydelike indentiteitsdokumente moet bekom, vorder die vinnigste.

’n Vrou in dié ry het gesê sy was vroegoggend reeds daar en was al twee en ’n half uur in die ry.

Toe Standard met haar gepraat het, was sy nog nie gehelp nie.

’n Ander vrou het gesê sy is “redelik vinnig” gehelp omdat sy in die ry vir tydelike identiteitsdokumente gestaan het.

Buite die gebou is ’n kennisgewing teen ’n bordjie geplak wat uitgesit word wanneer “kapasiteit bereik word”, maar mense het steeds in die ry gaan staan, ongeag die kennisgewing.

binnelandse sake
Die kennisgewing teen die bordjie wat uitgesit word wanneer die kantoor vol is.
binnelandse sake
Die kennisgewing teen die deur by binnelandse sake in Adderleystraat dui die tye van die kantoor aan.

Mense sê hulle ontvang geensins kommunikasie oor wat aangaan nie.

Standard het ’n navraag aan drie amptenare gerig om klarigheid te kry rakende die lang rye by die departement, maar het teen druktyd nog geen antwoord ontvang nie.

Die tweede amptenaar het Dinsdagoggend aan Standard gesê sy is “nie die geskikte persoon om antwoorde te gee nie” en die koerant na ’n derde amptenaar verwys.

Sy het egter probeer verduidelik dat die hoeveelheid mense wat elke dag gehelp wil wees, “te veel is”, wat dit moeilik maak en tot lang rye lei.

’n Navraag is toe per e-pos aan die derde amptenaar gestuur en verskeie oproepe is gemaak na die telefoonnommer wat verskaf is, maar niemand het op die e-pos gereageer of die telefoon beantwoord nie.

Intussen is dit dalk wys om ’n kampeerstoel en “padkos” in te pak wanneer jy jou paspoort of identiteitskaart moet gaan hernu of laat vervang.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article