Talle bewerings teen die plaaslike munisipale diereskut word tans ná ernstige klagtes ondersoek.
Die diereskut is verlede jaar aan nuwe bestuurders oorhandig nadat Standard oor die uitgerekte tenderproses berig het.
Nou is daar talle klagtes wat selfs die rooi ligte by die Suid-Afrikaanse Dierebeskermingsvereniging (DBV) laat flikker het.
Die bestuurder van Leo’s Foundation, Tesna Palvie, ontken die meeste van die bewerings.
Die eerste bewering handel oor die moontlike oorbesetting deur diere wat by die skut aangehou word.
’n Anonieme en betroubare bron het aan Standard vertel dat die aantal diere by die skut tans die maksimum toelaatbare aantal oorskry. Die bron het ook uitgebrei oor die impak wat sulke omstandighede op diere se welstand kan hê en hoe sleg dit vir veral verwilderde diere of diere wat nog herstel, is.
“Dit is ongehoord en geheel en al ontoelaatbaar. ’n Mens verstaan dat die organisasie al die diere wil help, maar reëls en wette is daar om almal te beskerm – veral die diere.”
Palvie ontken egter hierdie bewering ten sterkste.
“Hier is geen chaos of oorbesetting nie. Die honde hier kan vrylik rondbeweeg, juis om seker te maak dat hulle oor die weg kom met ander diere. Dit verhoed ook stres en maak die honde meer gemaklik.”
’n Woordvoerder van die DBV, Keshvi Nair, verskil egter met Palvie.
“Die DBV het die mandaat om alle diere te beskerm en dieremishandeling en lyding te voorkom. Dit word gedoen deur die Dierebeskermingswet, waarvoor ons inspekteurs gemagtig is, af te dwing. Tydens ons onlangse inspeksie by die skut is ’n paar welsynkwessies gevind en aan die hand van ’n skriftelike waarskuwing opgelos. Hierdie bekommernisse het onder meer oorbesetting sowel as rioolkwessies ingesluit. Die skuiling is gewaarsku om hierdie bekommernisse betyds op te los om te verhoed dat die diere ly. Indien diere by die skuiling ly, sal die nodige stappe teen hulle gedoen word,” het Nair verduidelik.
Palvie sê hulle sit inderdaad met rioolprobleme en die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) gee aandag aan die saak. Sy ontken egter steeds dat sy te veel diere in haar sorg op die perseel aanhou.
Navrae oor van die kwessies is ook aan die BVM gerig, maar teen druktyd is ontvangs van navrae slegs erken, maar ons vrae is nog nie beantwoord nie.
Een van die ander bewerings wat die ronde doen, handel oor die onwettige verwydering van diere. Volgens die bron het Palvie ook ’n bekende dokter van Worcester se hond sonder toestemming geneem. Palvie ontken hierdie gerugte, en Nair beaam dit.
“Ons is onbewus van die onwettige verwydering van diere deur die betrokke skut. Indien die publiek bekommerd is dat onwettige of onregmatige optrede deur die skuiling onderneem word, word die publiek aangeraai om die plaaslike polisie in hierdie verband te nader. Indien die publiek enige welsynsbekommernisse rakende die diere by die skuiling het, word hulle aangeraai om die DBV regstreeks te kontak,” het Nair bygevoeg.
Standard kon geen bevestiging by die plaaslike polisie kry oor beweerde sake wat in hierdie verband aangemeld is nie.
’n Voorval tussen Palvie en ’n minderjarige meisie het vroeër vanjaar voorgekom nadat dit tot ’n beweerde onderonsie gelei het.
Die meisie, wie se identiteit beskerm word, verduidelik dat sy op 3 Januarie vanjaar haar siek hond na die skut geneem het om hulp te vra.
Sy skryf in ’n brief hoe bekommerd sy oor haar hond se welstand was en hoe siek haar ma was. Sy het geen ander uitweg gesien as om haar hond na Palvie te neem nie.
Sy vertel hoe Palvie haar na bewering sleg behandel het en ingelig het Palvie wil haar hond uit haar sorg verwyder. Die meisie en Palvie het toe na bewering in ’n stryery betrokke geraak, waarna Palvie haar vermoedelik met dip in die gesig gespuit en haar daarna met die dip se pyp in die gesig en op die been geslaan het.
“Sy het my met die polisie gedreig en gesê ek sal nie my hond terugkry nie.”
Palvie se weergawe verskil egter.
“Die hondjie was baie siek en het ernstige merke en sere gehad.
“Die hond was meer vlooie as hond. Ek het haar ingelig dat die hond uitgesit sal moet word, en sy was ontsteld en het met my handgemeen geraak en soos ’n berserker tekere gegaan.
“Ek het haar uit nood met die F10-dip gespuit, want sy wou nie kalmeer nie. Ek het haar nie aangerand nie. Hoe moes ek haar kalmeer?”
Nair is ook nie bewus van hierdie voorval nie en sê diere se belange moet te alle tye gerespekteer word.
“Die DBV erken die belangrikheid van ander dierewelsynskuilings, veral in gebiede waar geen DBV’s beskikbaar is nie. In die meeste gevalle werk die DBV saam met hierdie ander dierewelsynorganisasies om te verseker dat dierelyding en -wreedheid tot ’n einde gebring word.
“Kennis moet egter geneem word dat ons organisasies reg oor Suid-heen Afrika streng ingevolge die wet bestuur en hulle moet aan daardie vereistes voldoen.”



