Ivor Beresford Uys, een van Worcester Korrektiewe Dienste se mees geliefde beamptes, roep halt aan die einde van Februarie ná meer as 40 jaar in die diens.
Uys, wat terloops môre (25 Februarie) 60 jaar oud word, het in 1980 aan die Hoërskool Breërivier gematrikuleer en het op 8 April 1981 aangesluit by die plaaslike Korrektiewe Dienste. Tydens sy formele opleiding aan die Westlake-kollege het hy sommer gou-gou indruk gemaak en ná sy basiese opleiding het hy aangebly as instrukteur belas met dril, skietkuns en selfverdediging.
In 1990 is hy verplaas na Worcester-gevangenis en ná drie jaar hier verskuif na Dwarsrivier net buite Wolseley, waar hy die volgende sewe jaar gestasioneer was. In 2000 keer hy terug na Worcester waar hy tot en met sy aftrede aan die einde van die maand gewerk het.
In sy tydperk in die diens het hy verskeie kursusse deurloop, onder meer in Kroonstad asook ’n gevorderde kursus op Robbeneiland. Intussen het hy ook in samewerking met die Group of Hope-inisiatief aktief betrokke geraak by uitreikaksies veral by kleuterskole, ouetehuise en verskeie skole.
Uys was ’n bogemiddelde en begaafde rugbyspeler wat reeds in sy standerd 9-jaar (gr. 11) lid geword het van Primroses-rugbyklub, waar hy bevoorreg was om saam met die beroemde Jimmy (Ore) Moses te kon speel.
In sy matriekjaar is hy opgeneem in die Boland-skolespan met nog ’n latere bekende Kalla Joseph as sy kaptein. Op 19-jarige ouderdom is hy opgeneem in die Worcester-Uniespan waar hy nou met twee van sy oudonderwysers en later ook sy afrigters Nolan Grove en wyle Christy (Banda) Pietersen gespeel het. Hy was ook lid van die die Brandvlei Korrektiewe Dienste-span saam met die legendariese Matthew (Gibba) Davids vir deelname aan die Wes-Kaap-liga.
Met sy vertrek na Westlake het hy nog dieselfde jaar lid geword van die Tygerberg-groep waar hy saam met ster-spelers soos Pieter Jooste en Spokie September in een span kon speel. Met sy terugkeer na die Boland haal hy hierdie keer die Boland-span waar hy nou saam met sy kindertydse helde soos Francois (Kabalie) Davids, Joslyn Ontong, Christie Noble, Abie Felix saam in dieselfde span kon speel.
Hy is getroud met Rhonda, ’n nooi Neethling en die trotse pa van twee seuns en vier kleinkinders.
Volgens Uys is hy met reg baie dankbaar vir die feit dat hy vir soveel jare tot diens in sy beroep kon wees en vir die besonder groot vriendekring wat hy in die proses kon opbou.
Hy wil nou egter eers afskaal en gehaltetyd met sy gesin en familie deurbring. Daarby is sy een seun, Serge, ’n gereelde lid van Villagers se A-span en gaan hy nou meer gereeld tyd afknyp om sy seun se vordering op die speelveld dop te hou. Daarby beoog hy en ’n jare lange kollega en vriend Noel Lakay (wat terloops ook binnekort halt roep), om hul kundigheid met plaaslike kerke en jeugbrigades te deel oor dril en ander fynere kunsies wat hiermee gepaard gaan.
Hulle beoog om ook in die nabye toekoms by die opleiding van sekuriteitspersoneel en onder meer wapenopleiding, betrokke te raak.





