Namate die feestyd nader kom, is boewe en skurke in die Worcester-streek ook al meer doenig.
Verskeie inwoners was onlangs die teiken van misdaad en het hul besittings verloor aan die hand van kwaaddoeners en misdadigers wat huise en motors teiken.
Standard het die afgelope tyd verslag gedoen oor verskeie misdade en inbrake waar selfs kwesbares soos gestremdes geteiken is.
Onlangs was ’n gesin van Riverview die teiken van ’n inbraak toe hulle na bewering met gebrande CD’s aan die slaap gemaak is. Die reuk en chemikalieë wat uitskei sodra ’n CD aan die brand gesteek word, kan glo daartoe lei dat mense in hul slaap verdoof word en diep slaap. Dit gee misdadigers die geleentheid om ’n woning rot en kaal te besteel.
“Ons het geslaap en ek slaap vreeslik lig. Ek word vir die eenvoudigste geluid wakker. Daardie betrokke aand het ek iets vreemd geruik, maar gedink dalk maak iemand weer vuur buite. Ek het gevoel hoe ek al meer bedwelmd voel en het net weggeraak. Die volgende oggend het ek gesien my kind se fiets, ons televisieskerm en ons selfone is uit ons woonstel gesteel.”
Talle buurtwaggroepe in die omgewing het ook soortgelyke verhale gedeel van inwoners wat in die nag besteel is of wanneer hulle vir ’n naweek weg was.
AO Vathiswa Jacobs van die plaaslike polisie het ook onlangs aan Standard gesê inbrake en veral diefstal uit motorvoertuie is ’n prioriteit waaraan die polisie aandag gee.
Wenke vir mense wat hul huise moet beveilig wanneer hulle weggaan:
Beligting
. Maak seker dat buiteligte en sensors in ’n goeie werkende toestand is.. Gebruik ligte in die huis wat aan tydskakelaars gekoppel is.
Posbus
. Vra iemand om pos uit jou posbus te verwyder en staak koerantaflewerings.
Alarm
. Toets jou alarmstelsel en maak seker die mens(e) wat na jou huis omsien, weet hoe die stelsel werk.
voertuie
. Sluit motors en motorfietse toe.. Moenie motorsleutels op plekke los waar dit maklik bereikbaar is nie.. Toets jou voertuig se opsporingstelsel.. Doen pakwerk vir die vakansie waar niemand jou motor kan sien nie.. Moenie langs die pad stop tensy jy 100% seker is dit is veilig nie.
Tuin
. Reël dat iemand jou tuin versorg terwyl jy met vakansie is.. Snoei plante naby jou elektriese omheining.
Heinings en hekke
. Maak seker dat jou elektriese omheining en hek in veilige werkende toestand is.. Maak seker dat alle slotte, deure, vensters en veiligheidshekke behoorlik toe is.
Perseel
. Moenie enige sleutels buite wegsteek nie.. Bêre alle tuingereedskap, stoele, tuinslange ens.. Installeer geslotebaankameras.
Waardevolle items
. Sluit waardevolle items in ’n kluis toe.. Maak seker dat TV’s en elektroniese toestelle nie van buite sigbaar is nie.. Sluit elektroniese toestelle op ’n veilige plek toe.
BURE
. Gee jou bure jou kontakbesonderhede en dié van mense wat na jou huis en diere omsien. . Stel jou bure in kennis oor jou vertrek- en terugkeerdatum.. Moenie op openbare groepe sê dat jy weggaan nie.





