Hofgangers is keelvol oor hoe beurtkrag tans die howe se skedules omver gooi.
Sake word telkemale as gevolg van beurtkrag uitgestel en word gewoonlik eers oor ’n maand geskeduleer. Talle wil weet hoekom howe – veral ’n hof soos dié van Worcester, wat ’n hele streek dien – nou nog nie kragopwekkers het nie.
Volgens Noluvuyo Bekwa, ’n woordvoerder van die departement van justisie en grondwetlike ontwikkeling, is die departement besig om reëlings te tref vir alternatiewe kragbronne vir die hof.
“Die departement van justisie en grondwetlike ontwikkeling het ’n versoek gerig aan die departement van openbare werke en infrastruktuur, wat die bewaarder van alle staatsgeboue is, om die elektrisiteit-behoeftes vir die Worcester-hof te prioritiseer. Dit is in die eerste fase van die uitrolplan deur openbare werke en infrastruktuur,” verduidelik Bekwa.
Sy noem ook as tussentydse plan het die departement van justisie en grondwetlike ontwikkeling mobiele opnemers as ’n alternatiewe oplossing uitgereik.
Baie kla ook oor hoe die aantal sake wat in die howe aangehoor moet word, elke dag minder word as gevolg van bandopnemers en ander toerusting wat elektrisiteit gebruik, maar nie werk nie. Bekwa verduidelik sake word ingevolge die beurtkragskedules geprioritiseer.
“Sake word na gelang van die beurtkragskedule tussen belanghebbendes geprioritiseer. Verhore gaan byvoorbeeld voort wanneer die krag aan is, en borgtogaansoeke word met alternatiewe opname-apparate hanteer.”
Bekwa sê die departement het ’n plan om alle agterstallige sake in te haal.
“Daar is ’n forum vir agterstallige sake wat ingestel is om sulke kwessies aan te pak,” sê Bekwa.


