Beurtkrag raak elke liewe een van ons. Die uitwerking van hierdie krisis kring by die dag uit, en dit is nou die Blinde gemeenskap wat veral vrees as die krag afgaan.
“Jy maak staat op jou gehoor, maar soms kan dit jou ook in die steek laat en dit kan jou, jou lewe kos.”
So vertel Marius Pieterse (58), ’n blinde man wat daagliks met sy gidshond die strate van Worcester moet aandurf. As beurtkrag inskop, maak dit dié reeds senutergende taak net nog moeiliker.
“Die verklikkers by verkeersligte werk dan nie. Worcester het ook nie van die beste padgebruikers nie en dit maak dit moeilik. Ek kan aan soveel kere dink wat motoriste bloot net die padreëls verontagsaam het en ek bykans my lewe verloor het. Dit is nou met beurtkrag net soveel erger,” verduidelik hy.
Pieterse sê hy gebruik nou die beurtkrag-skedule om te verseker dat hy eerder tuis is wanneer die krag afgaan.
“Ek wil nie doodgery word nie. Mense stop net bloot dan nie by die verkeersligte nie, en ander sal op hul toeters lê asof dit my skuld is omdat ek die pad wil gebruik.”
Die verkeersafdeling het onlangs gesê sy beamptes doen veral moeite by besige aansluitings en oorgange van belang tydens beurtkrag en tye van swaar verkeer.
“Ek kan nie verwag dat beamptes by elke hoek geplaas word nie, maar is daar geen manier om ons verkeersligte aan sonkrag te koppel en dit só aan die gang te hou nie? Dit sal soveel probleme uitstryk,” meen Pieterse.
Pieterse se vrou, Ronaldi, is blind in een oog, maar het sowat 25% sig in haar linkeroog. Sy probeer haar man lei waar hy moet gaan, maar ná ’n motorongeluk sowat 16 jaar gelede sukkel sy om te stap.
“Ons probeer mekaar maar help. Baie dink ons Blindes gaan net vinnig uit winkel toe en keer dan weer terug. Ons gaan ook koffiewinkels toe; ons gaan stap ook deur winkels en plekke. Dit is net soms ’n groot uitdaging,” vertel sy.




