Dié foto wat vroeër vanjaar geneem is, wys die lang rye waarin mense in wind en weer vir diens by binnelandse sake moet wag.


Om bloot jou burgerlike plig by die departement binnelandse sake se gebou uit te voer, blyk ’n groot kopseer vir talle inwoners te wees.

Valleiers sê hulle is keelvol vir die beweerde gebrek aan dienslewering by die plaaslike kantoor van binnelandse sake. Lang rye, stelselfoute en die vlak van hulp wat verleen word, laat talle mense onthuts.

Standard het in Maart vanjaar berig oor die lang rye en gebrek aan dienslewering by hierdie tak. Na wat van inwoners verneem word, is hierdie kwelpunte onveranderd.

Mayanise Cupido, ’n inwoner van Roodewal, was onlangs ’n slagoffer van diefstal en is in die proses haar ID en dogter se geboortesertifikaat kwyt.

“Ek probeer nou al drie weke lank om net dié dokumente weer by binnelandse sake te hernu. Ek werk ook elke dag van 08:00 tot 16:00, so, om tyd af te vat om dit te gaan doen, is moeilik. Ek was nou al drie keer daar – een keer was die stelsel van lyn af, die ander keer het ek amper ’n uur en ’n half in die ry gestaan en is toe ingelig dat hulle nie meer mense daardie dag gaan help nie – dit was blykbaar te naby aan sluitingstyd. Ek is toe weer verlede Dinsdag (13 September) soontoe en is ingelig dat die stelsel landswyd af was,” vertel sy moedeloos.

David Hlabane, ’n woordvoerder van die departement van binnelandse sake, sê hulle het die afgelope week ’n landswye krisis met hul hoofstelsel gehad.

“Ons hoofstelsel het Maandagmiddag (12 September) ’n grootskaalse probleem ondergaan. Die departement het twee kragopwekkingseenhede asook ’n ekstra battery wat aan die stelsel in Pretoria gekoppel is, maar weens beurtkrag en ander faktore buite ons beheer is die stelsel onderbreek en was dit vir twee dae tegnies van lyn.

“Ons het spoedig gewerk om die probleem te herstel en dit is tans iets van die verlede. Ons kon nie ID’s, paspoorte of tydelike paspoorte uitreik nie,” het Hlabane bygevoeg.

Cupido beaam sy weet nie wanneer sy weer ’n waardige ID sal hê nie en is erg gefrustreerd met die situasie.

Megan Smith-Lewis, ’n inwoner van Rawsonville, sê sy het al twee keer in een week vir langer as twee ure in die ry gestaan en is telkens net ingelig sy moet maar op ’n ander dag terugkom.

“Die feit dat stelsels nie werk nie en dinge lank vat pla my nie so erg nie. Die manier waarop mense hanteer word – veral deur die bestuurders – is wat my verstand te bowe gaan. ’n Glimlag kos niks nie; om jammer te sê, kos ook niks nie.”

Die diens is na bewering ook stadig wanneer beurtkrag die dorp tref. Standard het die plaaslike kantoor van binnelandse sake op vyf verskillende geleenthede oor twee dae probeer kontak via hul telefone, maar oproepe bly onbeantwoord – gedurende beurtkrag en ander ure wanneer die krag wel aan is.

Die teendeel geld egter ook, want sommige sê hulle is vinnig gehelp.

Tanya Walters van Worcester het op haar beurt aan Standard gesê sy het einde Augustus om haar paspoort aansoek gedoen en dit in minder as twee weke ontvang. “Dalk was ek net gelukkig. Ek weet sommige mense sukkel wat diens betref, maar ek is dankbaar hulle kon my so vinnig help.”

Hlabane meen egter inwoners moenie huiwer om die inbeldiens te gebruik om klagtes aan te meld nie.

Hy sê sekere dienste kan bespoedig word deur die departement se webtuiste (www.dha.gov.za) te gebruik. . Die inbelsentrum kan bedags by 0800 60 11 90 of per e-pos by hacc@dha.gov.za bereik word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article