Werkers van verskeie sakeondernemings in die nywerheidsgebied kla oor die voortdurende stank wat in die lug hang.
Party beweer die reuk tas hul sinusse aan en veroorsaak ’n bitter smaak in die mond.
“Hier hang die heeltyd ’n vrot reuk in die lug, en dit tas nou al ons sinusse aan,” het een van die werkers in die nywerheidsgebied gekla.
’n Ander het verduidelik die reuk raak erger, afhangend van hoe sterk en in watter rigting die wind waai.
“Later kom sit ’n bitter smaak in jou mond. Middagete hier by die werk is gewoonlik ’n onaangename tyd. Dit voel asof die reuk en gas van die waterbehandelingsaanleg in ’n mens se mond kom sit,” het hy verduidelik.
Hy sê ’n vlam is veronderstel om by die behandelingsaanleg te brand om van die gas ontslae te raak.
“Daai vlam brand nooit nie. Dit wil sê die gasse word baie maklik deur die wind deur die hele dorp versprei. Mense raak siek as gevolg van hierdie reuk en gas.”
Die Vinaqua-waterbehandelingsaanleg ontvang afvalwater van verskeie maatskappye in die dorp, wat hulle dan verwerk.
Die aanleg is deel van Brenn-o-kem.
Volgens die uitvoerende hoof is hulle bewus van die huidige probleem.
“Ons is bewus van die sporadiese reuke wat van die aanleg af kom, en ons spanne werk hard om dit op te los,” het Ruaan Genade, die uitvoerende hoof, verduidelik.
“Die oorsaak hiervan sluit in dat ons afvalwatersuiweringsaanleg deur die hewige beurtkrag geraak word. Om konteks te gee – die aanleg is ’n afvalwaterbehandelingsaanleg, wat Vinaqua genoem word) vir wyn- en distillaat-afvalwater, en breek organiese materiaalkonsentrasie af na biogas, wat hoofsaaklik uit metaan en koolstofdioksied bestaan. Onder gewone werking behoort dit geen reuke af te gee nie, maar dit is ’n nuwe aanleg en ons doen voortdurend verbeterings om hierdie doelwit te bereik,” het Genade afgesluit.



