Van links is Sean-Douglas Cedras, Luke Davids, Randall Modiba (hoofafrigter van Sentraal Universiteit vir Tegnologie Bloemfontein) en Jean-Pierre Burger. Cedras en Davids is voorlopig in die Ixias Varsitybeker Young Guns-groep vir 2024 opgeneem. Burger is reeds by die Varsitybeker se senior groep vir 2024 ingesluit. Foto: Norman Evertson

Credit: SYSTEM

Twee bloedjong en talentvolle rugbyspelers van die Breë-Langebergstreek is in die Sentraal Universiteit vir Tegnologie (SUT) Bloemfontein se voorlopige Ixias Varsitybeker Young Guns-groep vir 2024 opgeneem, nadat albei die oog van SUT se hoofafrigter, Randall Modiba, gevang het.

Modiba het ná sy aanstelling by SUT in Bloemfontein gereeld verkenning in die Breë-Langeberg-omgewing gedoen, op soek na vars talent. Hy het dié twee jong spelers tydens ’n skolewedstryd raakgesien.

“Ek het dié twee leerders van die Hoërskool Robertson, Luke Davids (agsteman) en Sean-Douglas Cedras (senter/losskakel), by ’n skolerugbywedstryd tussen Langeberg Senior Sekondêr en die Hoërskool Robertson raakgesien,” sê Modiba.

Indien dié twee kranige rugbyspelers se vordering goed verloop, sal hulle in aanmerking kom vir finale insluiting en beurse, afhangend van hul finale akademiese uitslae.

“Die rugbybeurs waarvoor die twee spelers moontlik kan kwalifiseer, is ’n goue een. Die outjies sal onder meer deel van ’n rugbyprogram word en ook deel in die studiebeurs en wat daarmee gepaardgaan,” verduidelik Modiba.

“Dit is ook ’n geleentheid vir hulle om vir die Vrystaat se junior spanne te speel, soos die o.19-spanne, afhangende natuurlik van hul prestasies.”

Modiba het ook melding gemaak van die voormalige o.21-Bolandvaskopstut, Jean-Pierre (JP) Burger, ’n oud-leerder van die Hoërskool Montagu wat reeds die rugbybeurs ontvang het en deel is van die Varsitybeker se senior groep vir 2024.

“JP het in die Bolandse klubrugbystrukture indruk gemaak en baie voortreflike rugby by Boland se o.21’s gespeel. JP het alreeds in die vroeë seisoen by SUT aangesluit.

“Hy het omtrent al vier tot ses weke saam met SUT deurgebring. Begin Desember 2023 het JP teen SWD in George ’n wedstryd gespeel en groot indruk gemaak,” sê Modiba oor dié talentvolle vaskopstut.

Luke Davids, seun van die oud-Springbokslot Quinton Davids, en Sean-Douglas, oorspronklik van Wolseley, het albei gesê hulle sal ook hard werk en alles insit om vir die beurs en finale insluiting te kwalifiseer.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article