’n Foto van die betoging wat die Theewaterskloof-munisipaliteit op Facebook gedeel het.

Credit: SYSTEM

Die plaaslike polisie het enige onwaarhede in die kiem gesmoor nadat talle gerugte die ronde gedoen het oor ’n voorval in Villiersdorp vroeër vandeesweek.

’n Groep ontstigte inwoners het die strate van Villiersdorp Maandagoggend (8 Mei) omstreeks 02:50 versper weens ’n beweerde gebrek aan dienslewering by die plaaslike kliniek. Standard het egter verneem twee babas het hul lewe in die kliniek verloor en dít was die rede vir die protes-aksie.

Kapt. Ryan Arends van die Villiersdorp-polisie het die voorval bevestig, maar sê gerugte oor die afsterwe van twee babas is onwaar.

“Dit het gehandel oor ’n gebrek aan dienslewering. Die inwoners het naby die USave-supermark in die dorp bande begin brand en palette gebruik om die vlamme aan te hits. Ons het toegetree en die groep tot in Buitekantstraat gedwing,” het hy aan Standard vertel.

Enkele minute nadat die situasie effens bedaar het, het ’n ander groep inwoners van die Makenzi- informele nedersetting die betoging oorgeneem. “Dit was meestal Sotho-mense (buitelandse burgers) wat die situasie gekaap het en wou protes lewer oor munisipale dienslewering. Ons moes egter optree en het rubberkoeëls gebruik om die skare tot stilstand te dwing. Ons het een vrou op ’n aanklag van openbare geweld in hegtenis geneem. Sy het Dinsdag (9 Mei) in die hof verskyn, maar is vrygelaat,” het Arends bygevoeg.

Hy het bevestig dat geen lewensverlies of beserings en ook geen skade aan geboue of eiendom aangemeld is nie.

Die Theewaterskloof-munisipaliteit het ’n verklaring uitgereik nadat die sowat 200 betogers teen omstreeks 14:00 Maandagmiddag bedaar het. “Ons departement vir menslike nedersetting het met gemeenskapsleiers vergader om hul griewe te hoor en haalbare oplossings voor te stel. Toilette, toegangspaaie, vullisverwydering en water en elektrisiteit was van die brandende kwessies op hul lys. Amptenare en gemeenskapsleiers het tot ’n vergelyk gekom en verdere bespreking en implementering sal volg.”

Die munisipaliteit het bevestig opvolgvergaderings tussen die komitee en amptenare is vir volgende week beplan.

“Ons sal hard werk saam met alle departemente om inwoners se behuisingsbehoeftes te bespoedig, maar behuising bly ’n komplekse saak en ’n uitdaging reg oor die land.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article