Die BVM beoog om betaalde parkering in die sakekern in te stel.Foto: Dominique Jeftha


Worcesteriete moet hulle regmaak om vir parkering in die middedorp te betaal.

Die Breedevallei-munisipaliteit (BVM) beoog om ’n nuwe parkeerstelsel te implementeer, wat deur ’n eksterne diensverskaffer bestuur sal word. Diensverskaffers sal tender hiervoor.

Inwoners het tot Vrydag (13 Mei) gehad om hul stemme vir of teen die nuwe voorgestelde parkeerstelsel te laat hoor.

Volgens die konsepdokument oor die voorgestelde stelsel is die BVM verantwoordelik vir die voorsiening, instandhouding en bedryf van openbare parkering binne sy jurisdiksiegebied.

Luidens die dokument is bestuurde openbare parkering in die sentrale sakekern ontwerp om plaaslike ekonomiese ontwikkeling te steun deur ’n gereelde parkeeromset by winkels en sakeondernemings te verseker.

Twee soorte openbare parkering word tans deur die BVM bestuur – straatparkering gerig op korttermynparkeerders, en parkeerterreine vir medium tot langtermynparkering.

Die munisipaliteit beoog om ’n parkeerstelsel te gebruik waardeur parkeerbeamptes met ’n draagbare toestel parkeerplekke op straat en in parkeerterreine bestuur.

Een van die redes wat die munisipaliteit vir die nuwe parkeerstelsel verskaf, is om die veiligheid van mense se motors te verseker. Die BVM sê ook hy gaan ekonomiese ontwikkeling en werkskepping vir mense in die munisipale gebied hierdeur bevorder, asook ’n werksgeleentheid met die uitvoer van die tender.

Watter tye gaan jy betaal?
– Maandae tot Vrydae tussen 07:00 en 18:00
– Saterdae tussen 07:00 en 14:00
– Sondae en openbare vakansiedae gratis

Die proses sal só werk:

  • Die motoris sal sodra hy geparkeer het ’n parkeerpleknommer sien op duidelik gemerkte bordjies op die randsteen.
  • ‘n Parkeerbeampte met ’n draagbare toestel sal die motoris nader en die motoris sal dan die tydsduur wat hy wil parkeer, aan die beampte verskaf.
  • Die beampte sal die voertuig se registrasienommer vaslê en ’n kwitansie aan die motoris uitreik.
  • Die gedrukte kwitansie moet sigbaar aan die binnekant van die voertuig aangebring word, waar wetstoepassers en parkeerbeamptes dit kan lees.
  • By terugkeer na die voertuig sal die beampte die voertuig op die toestel opsoek en die motoris oor die verskuldigde bedrag inlig.
  • Die motoris sal dan die parkering óf met kontant, debiet- of kredietkaart óf ’n spesiale slimfoontoepassing betaal.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article