Anna-bé Coetzee tree af ná 24 jaar en 10 maande by die ACVV Nuwerus-tehuis.

Credit: SYSTEM

ACVV Nuwerus-tehuis vir bejaardes het onlangs afskeid geneem van hul bestuurder, wat ná 24 jaar en 10 maande hier afgetree het.

Anna-bé Coetzee het in Junie 1997 die pos as bestuurder ingeneem nadat sy eers ’n paar jaar as maatskaplike werker diens gedoen het.

Hoewel sy kennis van bejaardes gehad het as maatskaplike werker, het sy baie min geweet van die bestuur van so ’n groot fasiliteit. Geboue se instandhouding, personeelbestuur, die bestuur van ’n groot begroting en geldinsamelingsprojekte was vir haar vreemde terrein.

“Ek moes vinnig leer, veral toe daar kort ná my aanstelling ’n personeel­staking begin het. Alhoewel die staking grotendeels oor salaris-ontevredenheid gegaan het, het allerlei ander beskuldigings deur die stakers en hul meelopers my tog bygebly,” sê Coetzee.

Sy vertel een van die redes vir die staking was die feit dat Nuwerus “leliewit” was en die inwoners in daardie stadium nie die demografie van Worcester se gemeenskap weerspieël het nie.

“Dit was vir my ’n uitdaging om dit reg te stel aangesien ek as maatskaplike werker die bejaardes van Worcester wou dien en nie slegs een groep nie.

Vandag kan ek met trots sê dat die integrasie van ouer mense uit verskillende gemeenskappe in een huis sonder ernstige pyne van die bejaardes se kant verloop het.

Coetzee sê dit maak haar hart warm om te sien hoe bejaardes wat voorheen apart geleef het, nou saam eet, woon, dorp toe stap en mekaar ondersteun.

Die unieke bestuursuitdagings het oor die 24 jaar vir haar ook makliker geword, danksy die hulp van ’n baie knap bestuurskomitee en ook bevoegde personeellede.

Sy sê oor die jare heen het sy Worcester se gemeenskap deeglik leer ken.

Uitdagings was daar vele, waarvan die jongste seker beurtkrag is. “Nuwerus beskik nie oor alternatiewe krag om die hysbakke te laat werk nie. Aangesien ouer mense selde trappe kan klim, is almal gestrand in hul kamers en moet etes en drinkgoed met die trappe opgedra word. Dan is vier verdiepings nogal erg.”

Die veranderende omgewing waar Nuwerus geleë is, het ook meer misdaad gebring en al hoe meer geld moes aan beveiliging bestee word. “Inwoners stap graag dorp toe en dit is my wens dat Russellstraat – veral in die omgewing van die tehuis – met kameras soos in die res van die dorp toegerus sal word.

Coetzee onthou ’n paar snaakse voorvalle wat haar nog jare sal bybly.

“By ’n tehuis is baie begrafnisse. So is daar een Saterdagoggend ’n begrafnis in die een lokaal en ’n geldinsame­lingsontbyt in die ander. Die oom wat baie graag sy kamermaat se diens wil bywoon verdwaal ongelukkig en beland by die ontbyt. Hy eet heerlik en gaan terug kamer toe. Die Maandag kom hy sê: “Dit was nou ’n heerlike begrafnis, maar dit was darem nie mooi dat hul niks van my ou kamermaat gesê het nie.”

Die bekende skrywer en Worcesteriet Rachie Viljoen, wat ook in haar later jare ’n inwoner van Nuwerus was, het met haar besondere humorsin baie staaltjies oor haar tyd in Nuwerus vertel. Een daarvan was soos sy dit beskryf het, die “beteuterde omie” van oor 90 jaar wat vir haar in die hysbak gevra het “op watter vloer het tannie ingetrek?”

Coetzee sê sy lê nou die tuig neer met groot dankbaarheid teenoor haar Hemelse Vader wat haar uitgekies het om vir 24 jaar en 10 maande skouer te skuur met soveel wyse en lieflike mense.

Wat gaan sy nou doen?

“Ek sien daarna uit om my huis en tuin te geniet, meer te lees en dalk meer te reis as die brandstofprys dit toelaat.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article