ROBERTSON. – Die Breërivier Wynland Landelike Ontwikkelingsvereniging het Donderdag 22 Augustus plaaswerkers in die Langebergstreek op sy jaarlikse Langeberg Landbou Prestige Toekenningsfunksie in die Robertsonstadsaal by ’n glansgeleentheid vir uitstaande werk vereer.
Met die aanvang van die verrigtinge het Madelain van der Berg, hooforganiseerder, ’n kort oorsig rakende die kompetisie gegee.
“Die Breërivier Wynland Landelike Ontwikkelingsvereniging het danksy vennootskappe met die plaaswerkers, die kommersiële boere / produsente en ons plaaslike munisipaliteit, toe nog die Breërivier Wynland-munisipaliteit, wat die inisiatief ondersteun het, tot stand gekom.
“In 2008 het ons deel van die kompetisie geraak, wat aanvanklik as die Plaaswerker van die Jaar-kompetisie bekendgestaan het, en jaarliks onder die vaandel van die Wes-Kaapse departement van landbou plaasvind,” het Van der Berg verduidelik.
Daar word in verskeie kategorieë meegeding, naamlik algemene werker, besproeiing, landbouverwerking, drywer, voorman, tegniese operateur, administratiewe personeel, juniorbestuur, middelbestuur, sosiale ontwikkeling, beste potensiaal en landbouwerker van die jaar.
Daar is ook ’n kategorie vir die beste presterende plaas.
Volgens Van der Berg was die inskrywings die laaste drie jaar ietwat kommerwekkend.
“In 2022 het ons 61 nominasies ontvang. In 2023 het ons ’n dip gevang met slegs 48 inskrywings. Hierdie jaar het ons egter ’n goeie 102 nominasies ontvang.
“Die kategorie-inskrywings het verbeter, die kaliber-kandidaat het verbeter en daar was net ’n ander vibe wat ons sommer baie opgewonde gemaak het.
“Ons kom ook agter die deelnemers is meer voorbereid. Daar word moeite gedoen om hulle gereed te kry vir die proses,” het Van Der Berg die gaste opgewonde meegedeel.
Die gasspreker by die geleentheid was Rita Andreas, burgemeesterskomiteelid vir kommunikasie en inter-regeringsverhoudings by die Drakenstein-munisipaliteit.
Andreas het die landbouwerkers met ’n terugblik op haar eie komvandaan bemoedig en geïnspireer. Sy het onder meer vertel hoe sy, net soos hulle, op ’n plaas grootgeword het.
“Ek het by my ouma en oupa op die plaas Leliefontein groot geword. Ons was vier kinders met ’n enkelouer, my ma.
“My eerste werk was op die plaas. Ek het as ’n algemene werker in die landerye op die plaas begin werk, waar ek stokkies geplant en wingerde geknip het.”
Volgens haar het die eienaar haar potensiaal raakgesien en sy is later gevra om met liasseertake in die kantoor te help. Drie maande later is sy as menslike hulpbronbestuurder aangestel en ’n jaar later het sy senior menslike hulpbronbestuurder geword.
“En so het ek opgegroei op die plaas en het al meer as 30 jaar ondervinding in menslike hulpbronbestuur,” het Andreas vertel.
In 2016 het sy ’n raadslid geword en sedertdien verskeie poste en portefeuljes by die Drakenstein-munisipaliteit beklee, onder meer burgemeesterskomiteelid vir landelike ontwikkeling, in 2021 burgemeesterskomiteelid vir menslike nedersettings en tans is sy die burgemeesterskomiteelid vir kommunikasie en inter-regeringsverhoudings.
“Hoekom vertel ek julle my lewensverhaal?” het sy gevra.
“Ek wil hierdeur vir julle wil sê, as ek, wat uit die landerye en wingerde kom, dit kon doen, kan julle dit ook regkry. Hou op terugstaan en iemand anders toelaat om vorentoe te gaan.
“Ek het alles waarvan ek gehoor het, alle kort kursusse, aangegryp en so my CV opgebou. Die geleenthede is daar, julle moet dit net aangryp,” het Andreas die werkers gemotiveer.
Tara Abrahim, ’n begaafde jong danseres wat al goud met haar dansvernuf verwerf het, het tussen die toekennings deur die gaste met haar elegante Latynse danspassies vermaak en sodoende meer glans aan die aand verskaf.
Die kategoriewenners:
. Algemene Werker – Racheline Wilschut (Riverside-Van Loveren). Sy het ook die Beste Potensiaal-kategorie ingepalm;
. Landbouverwerking – Ann-Marie Scheepers (Drie Eike Elana’s Preserves);
. Besproeiing – Faiz Neethling (Riverside-Van Loveren);
. Drywer – Bradley Geduld (Smuts Lucerne);
. Voorman – Gershwin Goliath (Esona Boutique Wines);
. Tegniese Operateur – Eugene Arends (Montagu Wynkelder);
. Sosiale Ontwikkeling – Neliswa Skeyi (Mon Don);
. Administratiewe Personeel – Debbie-Ann Weels (Graham Beck Wines);
. Junior Bestuur – Francois van der Merwe (Weltevrede); en
. Middelvlakbestuur – Charmaine Arendse (Escona Boutique Wines). Sy het ook met die gesogte kategorie, Landbouwerker van die Jaar 2024, weggestap.
Graham Beck Wines is as die Beste Presterende Plaas vir die Jaar 2024 aangewys.
Ter afsluiting het Van der Merwe alle rolspelers, die borge, donateurs, produsente en deelnemers bedank vir hul bydrae om die kompetisie en die toekenningsaand ’n sukses te maak.
Sy het voorts die onderskeie kategoriewenners en die streekwenner gelukgewens met hul prestasies en aangekondig dat hulle nou deurdring na die provinsiale kompetisie. Wenners van die Wes-Kaapse kompetisie sal op 19 September in Kaapstad by ’n spoggeleentheid aangekondig word.
Die aand is met ’n heerlike ete afgesluit.





