Die land se beste wynskrywer vir 2022 is Shandré van der Merwe, proelokaalbestuurder by De Wet Kelder buite Worcester. Die naaswenner is Petri de Beer, wat tot onlangs senior wynmaker by Longridge Winery naby Somerset-Wes was.
Die uitslae van hierdie kompetisie, nou in sy tiende jaar, is verlede week aangekondig. Shandré en Petri het onderskeidelik R15 000 en R7 500 met hul skrywes gewen.
Die SA Wynskrywer van die Jaar-kompetisie is oop vir skrywers 35 jaar oud of jonger en word aangebied deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Wynskouvereniging (SANWSA) – wat die SA Jongwynskou, Veritas-toekennings en SA Terroir-kompetisie bestuur – met die doel om slim, nuwe stemme in die wynbedryf te identifiseer.
Die kompetisie is in twee kategorieë beoordeel, een vir wynverwante tydskrifartikels en een vir webblogs wat oor een van vyf voorgeskrewe onderwerpe handel.
Shandré se algehele weninskrywing was ’n tydskrifartikel oor die onderwerp “The Future of E-Commerce in Wine” en sy het die invalshoek uiteengesit dat terwyl die Covid-19-pandemie baie uitdagings aan miljarde reg oor die wêreld gebring het, “een van die min silwer randjies wat na vore gekom het, was die oplewing van die e-handelsbedryf”.
Sy het afgesluit: “Miskien lê die ware krag in aanlynverkope daarin om te verseker dat wynkelders terugkerende klante skep deur uit te brei op die grondslag wat die proelokaal reeds gelê het. Om wyn aanlyn te koop is ongetwyfeld nog ’n verskuiwing in die pandemie-era wat gereed is om vas te hou. Hoe dit ook al sy, die toekoms vir e-handel is blink, en met die uitsonderlike wyne wat in Suid-Afrika aangebied word, sal wynkelders wat hul waens aan die e-handel-ster haak, beslis ’n toestroming in aanlynverkope sien.”
Van der Merwe, gebore en getoë in Worcester, het daar aan die Hoërskool Montana gematrikuleer en haar loopbaan in 2015 begin met ’n kliëntgerigte posisie in die bankbedryf. Dit is gevolg deur vyf jaar as akkommodasie- en gebeurtenisbestuurder by Leipzig Country House & Winery in die Nuyvallei en daarna die bestuur van De Wet Kelder se proelokaal, beplanning en koördinering van alle geleenthede, wynproeë en verkope.
Petri het ook in ’n tydskrif-artikel oor die onderwerp “Organiese wyn, vriend of gier?” geskryf.
Hy het geskryf: “Om van die rand van die landbou na ’n volwaardige nismark te beweeg, is geen maklike prestasie nie. Maar op een of ander manier is dit presies wat organiese boerdery bereik het. Organiese boerdery is toevallig een van hierdie diversifikasie-opsies en dit het die afgelope twee dekades gewild geword, wat dit onmoontlik maak om die moontlikhede wat dit bied te ignoreer.”
“Vir nou is organies ’n vriend (vir sommige ’n blote kennis). Maar ons moet lig trap – dit kan dalk ’n gier word wat die toekoms van volhoubare wynproduksie in die wiele ry,” skryf Petri, wat onder meer ’n MSc Agric in Wynkunde aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het.
Die 2022-beoordelaarspaneel het bestaan uit gesoute wynjoernaliste Wanda Augustyn, Cassie du Plessis, Danie Keet, Neil Pendock en Maryke Roberts, wat saamgestem het die 2022-inskrywings was van ’n aansienlik hoër standaard as verlede jaar toe ’n algehele wenner nie aangewys is nie.


