Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) het Vrydag in ’n verslag bekendgemaak altesaam 318 gevalle van masels is sedert die eerste week in Oktober tot 31 Desember verlede jaar landwyd aangemeld.

Volgens die Nios neem die aantal maselgevalle in die land steeds toe en word die gevalle in Limpopo (131), Mpumalanga (69), Noord-Wes (80), Gauteng (14) en die Vrystaat (11) as ’n uitbreking beskou.

Slegs vier gevalle is in die Wes-Kaap aangemeld.

Volgens Sandra Martiz, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid in die Kaapse Wynland, is inenting teen masels deel van roetine-immunisering wat by Wes-Kaapse gesondheidsfasiliteite beskikbaar is.

“Ons spanne berei voor om ’n inentingsveldtog teen masels in Februarie provinsiaal en in die Kaapse Wynland (Drakenstein, Breedevallei, Langeberg, Stellenbosch en Witzenberg) van stapel te stuur. Tans het ongeveer 80% van die kinders in die Wes-Kaap twee dosisse van die entstof as deel van hul roetine-immunisasieskedule ontvang.”

Maritz het gesê dié veldtog deel is van die landwye poging om grootskaalse uitbreking van masels te voorkom.

“Om so veel as moontlik kinders te bereik, sal gesondheidswerkers in die Kaapse Wynland ook by gemeenskappe en crèches besoek aflê. Kinders wie se ouers toestemmingsvorms voltooi het, sal die entstof ontvang.”

Om teen masels beskerm te wees, moet kinders twee dosisse van die entstof ontvang. Tydens die veldtog sal die kinders ’n addisionele entstof ontvang om hul immuniteit teen masels in die geval van ’n uitbreking verder te versterk.

Sy sê ook ouers moet op die simptome van masels let sodat ernstige komplikasies soos longontsteking of swelling van die brein vermy kan word.

Simptome wat gewoonlik voorkom, sluit in koors, hoes, rooi oë en ’n uitslag op die vel. Masels steek maklik aan en kan baie vinnig versprei.

“Ouers hoef nie te wag vir die veldtog om te begin nie en kan hul kinders nou reeds na hul naaste kliniek neem om die entstof teen masels te laat toedien.”

Volgens Maritz is masels een van die hoofoorsake van sterftes onder jonger kinders. “Dit is baie belangrik dat sulke kinders op datum gehou word met roetine-immuniserings, sodat hulle so gesond as moontlik kan bly.”

Die entstof teen masels is gratis beskikbaar by Wes-Kaapse gesondheidsfasiliteite en teen ’n fooi by private diensverskaffers.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article