Die hemele het sedert verlede Sondag (5 Maart) behoorlik oor die Breedevallei oopgemaak toe die La Niña-weerpatroon, wat die land tans ervaar, hewige reënbuie en donderstorms gebring het.
Saam met die reën wat geval het, het donderstorms en weerlig talle vierpotige vriende die skrik op die lyf gejaag, en baie het die hasepad gekies.
Volgens Juenieta Everson, ’n projekbestuurder sowel as een van die stigters van Sandy’s Eden, ’n dierewelsynsorganisasie in Worcester, is 32 gevalle van vermiste honde sedert verlede Sondag se onweer aangemeld.
“Honde se gehoor is ’n honderd keer sterker as ’n mens s’n,” het Everson verduidelik.
Hiérdie aspek veroorsaak dus dat die harde klank van donderweer vir honde soos ’n oorlogsone klink wat hulle kan vaskeer.
Volgens Everson het die diere ook nie ’n begrip van wat donderweer is nie en kom dus verward, angstig, en “gedisoriënteerd” voor.
Al hierdie aspekte saam veroorsaak dat jou Max, Zoë, Charlie of Bella op die vlug slaan en spoorloos verdwyn.
Elke donker (donderweer-) wolk het immers ’n silwer randjie – van die 32 honde wat sedert 5 Maart weggeraak het, is 29 reeds by hul tuistes terugbesorg en met ekstra liefde opgepas.
Everson het verder verduidelik die publiek kan ’n handjievol voorkomingsmaatreëls volg om hul honde in die volgende La Niña-reënbui te beskerm.
Dít sluit in om ’n kalmeermiddel by die naaste veearts aan te skaf, om rustige musiek te speel wat die klank van die donderweer demp (’n taktiek wat Sandy’s Eden ook volg), om honde binnenshuis te hou, maar ook op te let wanneer die dier vasgevang voel en deur ’n ruit wil ontsnap, óf om bloot jou hond te troos.
Ander (duurder) opsies sluit in om ’n elektroniese skyfie in jou hond te laat inplant, wat sy bewegings monitor of om seker te maak jou agterplaas is met stewige materiaal soos ’n baksteenmuur omhein.


