Paul Opperman het in vlamme ingehardloop om sy buurvrou te red.


’n Held van Worcester en sy buurvrou, wat hy uit haar brandende huis gered het, is goed aan die herstel.

Paul Opperman was Woensdag 25 Mei in sy huis in Roodewal toe sy vrou vir hom uit hul agterplaas skree.

“Belinda was buite besig, toe skree sy en ek het gaan kyk wat aangaan. Toe ek buite kom, het ek net vlamme en rook uit my buurvrou se huis sien kom,” verduidelik die nederige Opperman.

Hy het twee ander mense wat in die pad geloop het, geroep en hulle het oor die omheining gespring.

“Een van die ander twee outjies het begin om die deur te probeer oopskop. Ons het vir ’n tydjie gesukkel om die deur oop te kry, maar toe ons dit uiteindelik oopkry, het al die rook en vlamme vinnig na ons toe gekom.”

Opperman het eers net by die deur gestaan omdat hy weens die rook en vlamme nie by die huis kon ingaan nie.

“Ná ’n rukkie, toe die vlamme by die deur bedaar het, het ek net besluit om in te gaan. Ek het gesien sy sit op haar bank, maar beweeg nie. Toe ek nader kom, kon ek sien die regterkant van haar lyf en nek en gesig was vol vlamme. Sy het omgedraai en na my gekyk, maar die uitdrukking op haar gesig was onbeskryflik. Dit was asof sy nie die pyn gevoel het nie, asof sy opgegee het, asof sy vrede gemaak het met die feit dat sy daar in die vlamme sou sterf.”

Hy het die 61-jarige Sabiena Davids opgetel, maar toe val hy.

“Die rook en die vlamme was te veel. Ek het weer uitgegaan om lug te skep, toe is ek terug die huis in. Ek het haar opgetel en by die huis uitgeloop. Toe ons buite kom, het ek net neergesak, en toe was ek uit. Toe ek wakker word, was die brandweer op die toneel. Ek het ook my enkel seergemaak en my kop hard gestamp. Ek het self geen brandwonde opgedoen nie; die Here het regtig na ons in daai oomblikke gekyk.”

Davids se lewensmaat was ook in die huis ten tyde van die brand.

“Hy het later self uit die brandende huis gekruip. Ek het geweet hy is daar binne, maar ek kon nie teruggaan vir hom nie. Hy het darem ook nie brandwonde opgedoen nie.”

Beide Opperman en Davids is die volgende dag uit die hospitaal ontslaan.

“Dit gaan goed met haar. Haar wonde is verbind en sy vaar nou baie beter; die oom ook.”

Vervolg op bladsy 2.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article