Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) se branddienste bestry tans ’n bergbrand bokant die Waverley Hills-plaas op die pad tussen Ceres en Wolseley, (R46).
Die brand net bokant die Waverley Hills-wynlandgoed is vroeër vanmiddag (3 Januarie) aangemeld. Die kombinasie van verouderde, gemengde plantegroei en ’n ligte bries is besig om die brand aan te huts wat groot kommer veroorsaak, aangesien daar verskeie strukture naby die grense van die plaas geleë is.
KWDM se brandspanne van die Ceres- en Worcester-basisse, twee gekontrakteerde grondspanne van NCC, en helikopters, Whiskey en Tango, is ontplooi. Die spanne word bygestaan ??deur drie grondspanne en ‘n voertuig van CapeNature.
Daar is tans altesaam sewe brandbestrydingsvoertuie, twee helikopters en 63 bemanningslede op die toneel.
Die KWDM se brandweerdienste wil besoekers en inwoners daaraan herinner dat brande op dae met hoë temperature meer voorkom en moedig mense aan om waaksaam te wees wanneer hulle buite is.





