Vandag dink ek aan hulle wat trots, fier en regop oor my dorp waghou. Ek kan hulle nie ontsnap nie; draai ek links, regs, kyk ek agtertoe, vorentoe – hulle is daar, was altyd daar.
Worcester se berge is deel van my. Ek onthou hulle, blou en somtyds vaal. Ons het patrone in hulle gesoek – die olifant-kop; die ou vrou wat lê en slaap. Somtyds het ’n patroon ons so onverwags betrap. Die berge was egter op hul mooiste wanneer hulle onder spierwit sneeu lê.
Wanneer ek op koue oggende kaalvoet oor die klein klippies skool toe gestap het, het daardie sneeubedekte berge my só betower – ek het nie die steek van daai klippies gevoel nie.
G’n wonder dan dat hulle ook stil-stil in my kreatiewe skryfwerk ingesluip het nie. Worcester se berge kom in heelwat van my werk voor. In die gedig “Eendag” skryf ek:
“Anderkant die berg lê die lang-lang pad, daar sal ek loop Eendag, wanneer die kinderskoene my voete nie meer pas en ek uit my valle-rokkie bars, sal ek oor my lewe spring en ’n ander een begin, vergete kind van my ma, verdwene kind van my pa, grootmens van myself.
“Saans staan die berge se silhoeët stil en versekerd, so asof dit sê ‘gaan slaap, jy is veilig’.”
Die berge het ook ’n verlange in my wakker gemaak. Ek wou weet wat anderkant die berg lê. Ek het geweet dat ek groot genoeg moes raak om te kan reis tot aan die ander kant. Aan die een kant het die berge my “onskuldig” gehou en aan die ander kant my bewus/nuuskierig gemaak van wat moontlik anderkant hulle lê.
Op die ouderdom van 69 weet ek dat die berge altyd in die landskap van my geheue sal staan. Ek weet hulle sal vasstaan vir geslagte wat ná my sal kom soos hulle vasgestaan het vir hulle wat voor my gekom het – trots, fier en regop.
. Dr. Diana Ferrus is ’n bekende skrywer, digter en akademikus wat die passie vir haar taal uitleef en laat voortleef. Sy is ’n Worcesteriet en verwys gereeld in haar skryfwerk na haar liefde vir die Boland.





