Onlangs is berig dat bendegeweld in die Wes-Kaap aan die toeneem is.
Worcester is een van die dorpe wat pertinent genoem word in ’n ellelange lys van plekke waar bendegeweld na bewering buurte oorvat.
Volgens ’n berig wat op 4 Julie in Die Burger verskyn het, is byna 120 moorde binne ses dae gepleeg. Die dorp het oor die jare heen berug geword vir bendegeweld en die grusame moorde en pogings tot moord wat daarmee gepaard gaan.
Standard & Gazette het navraag by die Worcester-polisie gedoen.
Volgens AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder vir die Worcester-polisie, het bendegeweld in die dorp in vergelyking met dieselfde tydperk verlede jaar gestabiliseer.
“Daar is egter steeds onstabiliteit in Avianpark. Die konflik in Avianpark het wel vir eers afgekoel, maar daar is steeds konflik tussen twee bendes wat met mekaar baklei oor dwelms, die dwelmmark en grondgebied,” sê sy.
Sy noem dat daar wel in ander dele van die dorp ook soms bendeverwante onrus is.
“In Roodewal is daar bendes wat al jare lank onder mekaar baklei oor dwelms, invloed en grondgebied. Ook in Riverview is daar te veel bendes wat met mekaar oor dwelms en grondgebied baklei.”
Standard & Gazette het sedert die begin van die jaar drie stories oor bendeverwante pogings tot moord en moord gepubliseer.
“ ’n Algehele prentjie van bendeverwante misdaad is dat hierdie misdadigers hoofsaaklik vir diefstal in hegtenis geneem word, omdat hulle hul dwelmverslawing wil voed. Bendelede word ook baie in verband met gesinsgeweld in hegtenis geneem. Hulle terroriseer hul ouers en eis geld vir dwelms van hulle af. Hulle breek ook by bure se huise in om goedere te steel wat hulle later vir dwelmgeld verkoop,” verduidelik Jacobs.
Sy verduidelik verder dat bendeverwante misdade ’n groot faktor in Worcester is.
“Mededingende bendes ding voortdurend mee om grondgebied wat hulle in staat stel om geld te maak uit die verkoop van dwelms en drank. Dit sluit in konflik wat in Avianpark plaasgevind het, waarskynlik aangevuur deur die nuwe dwelmmark vir ‘neuskos’ (kokaïen). Roodewal is al vir minstens twee jaar in bendekonflik gedompel aangesien ’n dominante bende ingetrek het om die gebied van ’n mededingende bende af te vat. Hierdie konflik is aan die gang, maar het vir hierdie tydperk afgekoel.”
Jacobs maak ook melding van ’n toename in bendebedrywigheid in Zwelethemba.
“ ’n Toename in bendebedrywighede is in Zwelethemba waargeneem. Bendelede en graffiti wat met bendes in Roodewal en Riverview verbind word, raak al hoe meer algemeen in hierdie gebied. Riverview bly ’n broeiplek vir veelvuldige bendes met verskeie aktiwiteite en konstante beweging.”
Hoewel bendegeweld nie altyd na moord lei nie, is bendes se aktiwiteite steeds kommerwekkend en hou dit ’n gevaar vir die gemeenskap in.
“Bendelede is byna altyd dwelmgebruikers en herhaalde oortreders wat as individue baie misdaad pleeg, soos diefstal, huisbraak, aanranding en gesinsgeweld. Dit voed die groter georganiseerde misdaad-optredes, wat op hul beurt geld genereer deur middel van dwelmafsetpunte en sogenaamde beskermingsgeld.”




