’n Voorval van bendegeweld het Sondag omstreeks 10:15 in Avianpark voorgekom en die dood van ’n inwoner veroorsaak.
Volgens AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder van die Worcester-polisie, het ’n inwoner van Avianpark in Katlagterstraat gestap en is met ’n panga aangeval.
Die slagoffer was die 32-jarige Byron Kalamdien, wat op die toneel aan sy beserings omgekom het.
Die polisie het ’n patroondoppie in ’n nabye veld ontdek, maar dit moet nog in die lykskouing vasgestel word of skote wat moontlik afgevuur is, ook tot die slagoffer se dood bygedra het, het Jacobs verduidelik.
Volgens Florina Kalamdien, Byron se ma, is haar seun dood weens ’n skietwond in die bors asook die panga-houe oor die res van sy lyf.
Die Worcester-polisie kan dit volgens Jacobs in hierdie stadium nog nie bevestig voordat die lykskouing afgehandel is nie.
Jacobs sowel as Florina het bevestig dat die oorledene aan ’n bende in die Breedevallei behoort het, en dat die voorval weens konflik tussen twee bendes in die Worcester-gebied plaasgevind het,
“Ek was in die kerk toe my seun aangeval is,” het Florina gesê.
Sy het ná kerk by haar huis aangekom en die nuus toe eers het.
Volgens haar was die polisie nog nie by haar om ’n verklaring af te neem nie en sy wag steeds op verdere inligting oor haar seun se dood.
Florina het gesê Byron het sowat ses of sewe jaar gelede belangstelling daarin getoon het om ’n bende-lid te wees ten spyte van haar waarskuwings oor hierdie gevaarlike lewenstyl.
“Jy loop hand om die nek met die dood,” het Florina die bende-leefstyl beskryf wat haar seun se lewe geëis het, en verduidelik dat sy steeds sy afsterwe betreur omdat hy haar seun bly.
“Ek wil net my kind begrawe,” het Florina in ’n telefoniese onderhoud aan Standard gesê.
Volgens Jacobs is die verdagtes steeds op vrye voet.




