’n 27-jarige toeris van België wat onlangs ’n maand lank in Worcester gewoon het, vertel aan Standard dit was vir hom ’n lewensverrykende ondervinding.
Lodewijk Vereecke, ’n logistieke spesialis by die Volvo-groep in Evergem, België, het besluit hy gaan ’n jare lange droom verwesenlik en het in April vanjaar impulsief ’n vliegkaartjie na Suid-Afrika gekoop.
“Ek het in 2020 by ’n groep aangesluit wat beleggingsopsies bespreek en het toe ’n Suid-Afrikaner daarop ontmoet. Ons het sedertdien gesels en net gekliek. Ek het soveel gehoor oor Suid-Afrika en wou dit baie graag besoek. In Maart vanjaar was ek baie impulsief en het op die ingewing van die oomblik ’n kaartjie gekoop en ’n paar dae later, op 4 April, is ek toe op die vliegtuig,” vertel Lodewijk aan Standard.
Sy Suid-Afrikaanse penmaat was ook per toeval ’n Worcesteriet genaamd Curtley Baird.
“Suid-Afrika was onmiddellik vir my ’n anderste ervaring. Ek moes gewoond raak om aan die teenoorgestelde kant van die pad te ry en moes die pad van Kaapstad na Worcester aandurf.
“Ek is afgetrek omdat ek per ongeluk die motor se ligte afgesit het, maar die beamptes was baie vriendelik.
“Ek moes in die donkerte die huis opspoor en alhoewel dit aanvanklik onveilig gevoel het, het dit baie vinnig soos ’n tweede huis vir my geword,” vertel hy verder.
Lodewijk, wat vreeslik avontuurlustig is en graag adrenalien najaag, verduidelik dat Suid-Afrika veral vir hom baie gebied het om te doen.
“Ons weer in Europa is meestal koud en ek is lief vir somer. Aprilmaand was veral ’n lekker tyd in Suid-Afrika – ek kon soveel doen.”
Hy en Curtley het graag allerhande avonture gaan aanpak. Van staproetes, tot valskermspring en selfs haaihokduik gedoen.
“Ek was aanvanklik skrikkerig, want ’n mens hoor negatiewe goed oor die land. Worcester herinner my geweldig aan die dorp waar ek vandaan kom en het ’n rustige atmosfeer met baie vriendelike mense. Die mense daar het baie vinnig soos familie vir my geword.
“Ek, wat nie baie oor geloof weet nie, het aanklank gevind by die Baird-familie se manier van dankie sê. Hierdie dankbaarheid wat in geloof gevind kan word, is vir my baie mooi,” voeg Lodewijk by.
Hy is op 20 April terug België toe.
Curtley se pa, Xenny, vertel aan Standard dat dit vir hom en sy hele gesin ’n wonderlike ervaring was om meer te leer oor iemand anders se kultuur.
“Dit was ’n voorreg en baie lekker. Hy het sulke goeie maniere en ons kon vir hom soveel wys.”
Lodewijk vertel dat hy reeds na Suid-Afrika en veral Worcester verlang.
“Ek wil binnekort teruggaan. Ek sal maklik daar kan gaan bly. Die weer is vir my en die mense is baie vriendelik. Dalk maak ek eendag my eie onderneming daar oop en verhuis sommer.”




