’n Bekende in veral duiwesportkringe en pa van Worcester Villagers se eerstespanrugbykaptein Edgar Haas, beter bekend as Gary, is verlede Woensdag oorlede nadat hy die afgelope ruk met sy gesondheid gesukkel het.

Gary was ’n gebore en getoë Worcesteriet. Hy het sy laerskool-opleiding aan die bekende NGK Oefenskool ondergaan en aan Esselenpark gematrikuleer, waarna hy as korrektiewedienstebeampte by Brandvlei Korrektiewe Dienste begin werk het en kort ná sy 60ste verjaarsdag in 2019 afgetree het.

Hy was getroud met Lynette, en uit die huwelik is vyf kinders (drie seuns en twee dogters) gebore.

Gary was veral versot op duiwesport en het vir jare saam met sy oorlede pa, Eddie, ’n gedugte kombinasie by hul duiweklub WHRS gevorm. Ná sy pa se afsterwe het hy die tradisie voortgesit en menige kompetisie gewen.

Hy was ook versot op rugby en het veral nooit ’n tuiswedstryd van Villa gemis nie.

Gary was ten nouste betrokke by aktiwiteite van die VGK Worcester en het nes sy oorlede pa en broer Trevor ook as diaken en later ouderling gedien.

Lynette het gesê hy was ’n pa duisend – stil, nederig en baie liefdevol, “en voorwaar ’n rolmodel vir ons kinders”.

Gary word hierdie Saterdag (21 Desember) om 11:00 vanuit die VGK Worcester begrawe. Die troosdiens by die huis in Sakonstraat 133a is om 10:00.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article