’n Wolk van diefstal en bedrog bly hang oor die kop van die grapjas, storieverteller en televisiepersoonlikheid Nico Nel.
Nel (70) het vandeesweek weer in die streekhof in Hermanus op twee aanklagte van diefstal verskyn – byna vier jaar nadat speurders van Gansbaai ’n waarskuwingsverklaring by hom afgeneem het.
’n Bom het in 2016 om Nel se kop gebars toe dit aan die lig gekom het dat hy meer as R1,8 miljoen van sy suster, Klaradyn Augustyn van Worcester, gesteel het. Sy is die weduwee van die oudskoolhoof Jan Augustyn van die Hoërskool Montana in Worcester.
Nel was ten tyde van die finansiële transaksie ’n finansiële raadgewer van Old Mutual.
Hy is skuldig bevind aan diefstal en in ’n pleitooreenkoms met die staat is hy destyds drie jaar korrektiewe toesig opgelê. Hy is ook tot ’n verdere agt jaar tronkstraf, opgeskort vir vyf jaar, in die streekhof in Worcester gevonnis. Hy moet ook die meer as R1,8 miljoen aan Old Mutual terugbetaal.
Hierna het verskeie mense, wat “finansiële slagoffers” van Nel was, na vore gekom.
In die jongste voorval word Nel daarvan beskuldig dat hy byna R3 miljoen van ’n egpaar van Kleinbaai by Gansbaai gesteel het. Hy moes die geld glo namens die egpaar Magdalena en Anthony Reiner belê. Van die beleggings het daar glo dadels gekom. Luidens die klagstaat het Nel tussen 1993 en November 2005 altesaam R1,5 miljoen van Magdalena verduister.
Die tweede aanklag spruit uit die bewering dat Nel tussen April 1997 en Augustus 2011 nog R1 385 000 van Magdalena se man, Anthony, verduister het.
Die saak is tot 18 Oktober vir pleitonderhandelings uitgestel.
Luidens inligting aan Netwerk24 verskaf, het Nel ’n ooreenkoms verbreek wat hy met die egpaar aangegaan het om die geld terug te betaal.
Bronne het in 2019 gesê hy het vroeër reeds ooreengekom om R1 000 per maand terug te betaal.
Die betaling het later glo tot R2 500 per maand gestyg, maar die betalings het al in 2018 net opgedroog.




