Siebert Neethling (regs) by sy vrou, Nellie.

Credit: SYSTEM

Die bekende en gerespekteerde Siebert Neethling (63), wat in Februarie vanjaar oorlede is, se lewe is vandeesweek op ’n gepaste wyse gevier.

’n Vloot vragmotors van Vallei Organies het deur die strate van Worcester in konvooi gery om hul laaste eer aan dié bekende te betoon.

Vallei Organies word besit en bedryf deur Neethling se seun, Gerhardus.

Neethling is op 27 Februarie skielik oorlede.

“Dit was baie onverwags, maar ons vermoed dit was sy hart,” het Gerhardus aan Standard gesê.

Neethling was in 1992 die stigterslid van Wynland Organiese Kragbemesting in Wellington. Gerhardus het toe in 2006 Vallei Organies in Worcester gestig en die maatskappy verder uitgebrei.

“My pa is oorspronklik van Worcester en het grootgeword op die Olifantsberg-plaas buite Worcester en was betrokke by ’n steenmakery saam met oupa. Hy het dit verkoop toe oupa oorlede is en het toe die vervoerbedryf betree.

“Dit was ’n moeilike en swaar pad, maar met die aanhou het dit later sukses bereik. Hy het in 2018 weer na Worcester verhuis,” vertel Gerhardus verder.

Gerhardus, sy enigste kind, sy vrou, Nellie, sy skoondogter, Lizka en twee kleinseuns, Petrus en Samuel, het hom na aan die hart gelê.

“Ons sal hom altyd onthou as die omgeeman wat altyd sy gesin wou beskerm. Wat sy medemens op hul hande gedra het, wat altyd tyd gehad het vir almal en wat regtig sy laaste sente vir iemand anders sou gee.

“Die kleinseuns was sy alles en hulle kon hul oupa regtig om sy pinkie draai. Hy was ’n mensemens.”

Neethling se begrafnis is op Maandag 20 Maart gehou en die konvooi het hom gaan groet by sy huis in Altona Village.

“Ons het met hierdie gebeurtenis besef dat ons almal op aarde is met geleende tyd hier. Koester jou familie en gesin. Ons is dankbaar vir al die herinneringe saam met hom.”

Valleiers het ook op sosiale media hul medelye gedeel en talle het hul respek, liefde en waardering teenoor Neethling betuig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article