Op 13 Maart het die Nasionale Instituut vir Dowes (NID) se bejaardesorg-afdeling (Shalom) sy 14de verjaarsdag gevier. Hierdie spesiale tuiste vir dowe bejaardes is in 2009 geopen en bied ’n koesterende omgewing waar hulle met waardigheid deur kundige personeel versorg word. Alhoewel die lewe heeltemal stil is vir hierdie inwoners, beteken dit nie dat hulle die lewe nie voluit kan leef nie.

NID het tans 33 bejaarde dowes by Shalom. Dié inwoners bestaan uit mense met gehoorverlies, doofblinde mense en meervoudig gestremde dowes. Soos in enige ander tehuis vir bejaardes verloop die dae teen ’n ontspanne en rustige tempo, met kaartspeletjies, blokkiesraaisels, hekel- en breiwerk, lees en geselsies op hul eie unieke manier.

Gestruktureerde daaglikse programme en aktiwiteite word aangebied en fokus daarop om die inwoners te stimuleer en te motiveer. Toegewyde personeel bied daaglikse kwaliteit-sorg, maatskaplike en ondersteuningsdienste en mediese sorg.

NID is hul tuiste. Vir sommige hul enigste tuiste en familie. As organisasie sonder winsbejag het ons egter ondersteuning nodig om hul tuiste te onderhou. Ondersteuning van mense wat omgee en saam met ons werk om ’n verskil in die lewe van ons bejaarde dowes te help maak. Mense soos u.

Indien u graag ’n bydrae wil maak tot Shalom se verjaarsdag-wenslysie, kan u enige van die volgende skenk: tandepasta, seep (wit), Dettol/Savlon, roll-on deodorant, sjampoe, toiletpapier, volwasse doeke (XL, XXL), Zinc & caster oil cream, Prep cream, sanitêre doekies, Ensure Nutritional Supplement, Rehidrat-sakkies. Dit kan by die NID-hoofkantoor, De la Batweg 30, Worcester, afgelewer word. NID en Shalom bedank graag alle donateurs, vriende en vennote wat die pad saam met ons stap.

Maart-kalender – Projekte ten bate van dowes en mense met gehoorverlies.

. 28 Maart – NID Red vs Blue 5 km-pretdraf/stap.

Mans en vroue van alle ouderdomme sê mekaar die stryd aan om die trofee te verower vir die meeste inskrywings in hierdie unieke 5 km-pretdraf/stap. Deelnemers ontvang ’n medalje, daar is fantastiese pryse te wen in die gelukstrekking, asook in die laerskool-, hoërskool- en volwasse kategorieë.

Vir meer inligting en inskrywings, skakel 023 110 0145 of stuur e-pos na run4deaf@nid.org.za.

. 31 Maart – NID Fabulous Finds Markaand.

’n Wye verskeidenheid kosstalletjies, lekkernye en ander produkte. Die NID Fabulous Finds tweedehandse winkel sal ook oop wees. E-pos na fr.nid@nid.org.za of WhatsApp na 071 375 1426 vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article