Lede van verskeie bejaarde klubs dans hier die befaamde “Jeruselema-dans”. Suliaman Valley


Lede van die ses Worcesterse bejaardeklubs het bejaardeweek afgeskop met ’n heerlike makietie.

Die klubs wat deelgeneem het, is die Worcester- senior sportklub, die Houmoed-dienssentrum, Helpmekaar, Kleinbegin asook Nonkululeko-dienssentrum van Zwelethemba.

Hulle het vanaf die hoek van Kerk- en Baringstraat na die voorkant van die burgersentrum beweeg, waar hulle “Jerusalema” op die maat van musiek, verskaf deur die nimlike Davy “Kat” Willams, gedans het.

Die gasspreker was Naomi Nel, ’n raadslid van die Vryheidsfront Plus, wat die portefeulje van bejaardes in die plaaslike raad beheer. Die dag is verder opgekikker deur musiek verskaf deur die trio Donny Fortuin, Charles Hopley en die bekende minnesanger William (Boetie) Springveldt.

Verder het die programdirekteur van die dag, Shaheen Bergh, en Deon Kleynhans van die destydse gewilde popgroep Restless Children, toegesien dat die senior burgers met al hul kwinkslae en sêgoed van al hul skete vergeet.

Elke sentrum het twee items opgelewer met veral die Muslim-klub se item waarin hulle erkenning gee aan die rol van die allerhoogste in hul bestaan, wat groot byval by die groepe gevind het.

Die senior sportklub se mans (behoorlik uitgevat in pragtige tabberds en noupassende rokke) het die gehoor laat skater met hul aanbieding van die Mej. Wêreld-kompetisie en die lande wat hulle onderskeidelik verteenwoordig het.

Nonkukuleko se lede (uitgevat in tradisionele drag) was ook ’n groot treffer met hul tradisionele items.

Houmoed met hul weergawe van die gewilde “Ipitombi” asook Kleinbegin met hul sangitem “God bless Africa” asook hul geïllustreerde gedig “Die Ouderman” het die gehoor behoorlik laat skater, terwyl die Helpmekaar-groep as Die Grafsteensangers gewys het hulle staan vir niks terug nie. . Die forum het die geleentheid gebruik om seniors te nooi om deel te wees van die dienssentrums omdat programme gedurig aangebied word wat in ieder ’n en ’n elk se smaak sal pas. Skakel 072 263 5200 of 072 020 2795.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article